DOOP DEEL 24

Die doop vóór die ontmoeting met God is van onder, uit die aarde aards, die doop ná die ontmoeting met God is van Bo, uit die hemel hemels

Ons het gesien dat die doop-as-sakrament wat Jesus ingestel het, die teëbeeld, of te wel spieëlbeeld is van Noag se redding in die ark.  Die doop-as-sakrament wat Jesus ingestel het, is die parallel, van die verbond met Noag ná die vloed en die verbondsteken, die reënboog, wat verskyn wanneer son en reën gelyktydig uit die hemel kom.  Reën en sonlig besprinkel die aarde.

Tussen beeld en teëbeeld, redding in die ark en verbond met die reënboogteken, is Noag se ontmoeting met God, die offerande van rein diere en voëls (Gn 8:20).  Die ontmoeting met God is die spieëlpunt tussen beeld en teëbeeld.

Noag moes self die ark bou (Gn 6:14-16) en kos vir hom en die diere in die ark sit (Gn 6:21).  Omdat hy in God geglo het, het hy gehoorsaam (Heb 11:7).  Die bou van die ark en Noag se redding in die ark, die beeld, was die voorbereiding vir die teëbeeld, die verbond met die  reënboogteken.  Die Here het vir hom by voorbaat gesê dat hy die ark gereed moes kry, want die Here wou met hom ‘n verbond sluit (Gn 6:18).  Sy voorbereiding en redding in die ark was die voorbereiding vir die ontmoeting met die Here, sy offerande, en die verbond wat die Here daarna met hom sluit met die reënboog, son en reën gelyktydig, as teken.

‘n Teëbeeld (“spieëlbeeld”) is altyd parallel-omgekeerd.   Die voorbereiding – beeld – was van onder uit die aarde en is aards.  Noag bou die ark met hout wat uit die aarde gegroei het.  En Gn 7:11 sê eers dat “die fonteine van die groot watervloed oopgebreek” het, en daarna “die sluise van die hemel is geopen”.  Die fonteine gaan gewoonlik oop nadat dit reeds baie gereën het, nie vóór die reën nie.  Die skrywer van Genesis draai die normale volgorde om om te beklemtoon dat die water van onder na bo gestyg het, die ark van onder na bo natgemaak en opgelig het (Gn 7:18 en vv).

Die teëbeeld is presies andersom.  Die reënboog verskyn bo in die lug, verskyn wanneer die son skyn en die reën van bo na onder val.

Die beeld is die mense se toenadering tot God in geloof uit gehoorsaam aan God se bevel.  Die teëbeeld is God se antwoord in die vorm van sy seën (Gn 9:1), verbond en verbondsteken uit die hemel.

Dieselfde elemente lê soos ‘n goue draad deur al die gebeurtenisse in die Bybel wat met die doop verband hou en al die wette van die OT, nl voorbereiding vir die ontmoeting met God, ontmoeting en God se antwoord, beeld, spieël en teëbeeld/spieëlbeeld.

Die voorbereiding – beeld! – kan wees:

  • Geloof en/of bekering
  • Bou ark (Noag), of was jou klere en jouself (Uittog en Moses se wette) of Johannes-se-bekeringsdoop
  • Berei kos voor (bv pasga, offerandes) en eet

Die ontmoeting met God –spieëlpunt! – kan wees:

  • Offerande of gebed,
  • verskyning van die Here

God se antwoord

  • verbond-sluiting
  • verbondsteken – besprinkeling
  • Salwing met olie of handoplegging
  • Seën

Die voorbereiding is gekenmerk deur nat-word van onder na bo, van die voete na die kop! – was/doop!   Die teëbeeld is gekenmerk deur nat-word met bloed/olie/water van bo na onder, van die kop na die voete – sprinkeldoop!

Dieselfde elemente wat in die geskiedenis van Noag se doop is, was alreeds teenwoordig in die geskiedenis van die eerste twee mense.

Genesis 2 vertel hoe heerlik God self alles voorberei het voordat die mens in sonde geval het.  Dit was volmaak – sonder sonde!

Genesis  2 sê “Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie.  Maar ’n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig” (Gn 2:4b-6).  Ek kon nooit verstaan waarom die Here nie net bloot reën gegee het nie, waarom ‘n mis wat uit die aarde optrek om die aardbodem te bevogtig?  Dit het nie vir my sin gemaak nie.  Dit maak nou sin.  Dit is die voorbereiding vir die ontmoeting met God, water wat van onder na bo natmaak.  Dit is die vóórbeeld van die fonteine van die vloed wat oopgegaan het voordat die Here die sluise van die hemel oopgetrek het.

God het die eerste mens uit stof van die aarde gemaak – uit die aarde aards (1 Kor 15:47a) – en in sy neus die asem van die lewe geblaas wat die mens ‘n lewende siel gemaak het – laat regop staan het – ‘n beweging van onder na bo!

En net so sy vrou.  Hy het die mens aan die slaap gemaak – dws weer laat lê! – en ‘n ribbebeen uit sy sy geneem en opgebou tot ‘n vrou! – van onder na bo!  (Gn 2:21-24)

God het self vir hulle ‘n tuin geplant het met allerande vrugte wat goed was om van te eet met die twee bome in die middel van die tuin, die boom van die lewe en die boom van die kennis van goed en kwaad (Gn 2:8-9).

Die woorde van Gn 2:25 dat die mens en sy vrou albei naak was, maar hulle nie geskaam het nie teken hulle as rein en onskuldig! – skoon! – soos God hulle gemaak het.   Hulle het nie nodig om hulleself te was vir die ontmoeting met God nie – of om vuil klere te was nie – want hulle was skoon en rein – onbesoedeld.

Totdat hulle die slang ontmoet het (Gn 3:1-6).   Die slang, dws die duiwel (Op 12:9), die gevalle engel wat homself as engel van die lig voordoen (2 Kor 11:14), het hulle mislei om die boom wat God hulle verbied het, te eet.

Die verkeerde kos het hulle na liggaam en gees besoedel.  Angsvallig probeer hulle liggame met vyeblare toemaak en hulle kruip vir God weg – probeer die ontmoeting met God vermy! (Gn 3:8).

Maar geen mens kan die ontmoeting met God vermy nie.

God se antwoord, die teëbeeld, draai die aksie om van bo na onder.

  • Die slang sal op sy buik seil; hy verloor sy hoogte bokant die grond, sou later uit die hemel op aarde val (Lk 10:18, Op 12:9).
  • Die saad van die vrou sal die slang se kop vermorsel en die slang sal hom aan die hakskeen byt (Gn 3:15); die kop word eerste genoem en daarna die hakskeen – van bo na onder. Die kop word van bo af vermorsel en die hakskeen word van onder af gebyt.
  • Die vrou word uit haar posisie as hulp langs die man, verneder tot onderdanigheid aan haar man (Gn 3:16); die geboorte van haar kinders is afwaarts van bo na onder.
  • Die man sal in die sweet van sy aangesig sy brood eet; sweet val in druppels van die voorkop af – van bo na onder. Hy besprinkel met sy eie sweet die aarde wat hy bewerk en die koring wat hy plant om brood te eet.
  • Die Here maak en trek vir hulle rokke van vel aan (Gn 3:21) – hy oordek hulle skaamte! – van bo na onder! Daarvoor moes diere sterf – ‘n heenwysing na die offerandes wat sou volg sodat die mens kan lewe.

Die voorbereiding is die omgekeerde van dié wat sou volg ná die sondeval.  Dit beeld ‘n goeie skepping wat God uit die aarde tevoorskyn bring – rein en skoon – onbesoedeld, maar wat deur die ingewing van die satan bedorwe raak, die mens wat angsvallig homself probeer bedek, die ontmoeting met God probeer vermy.  Dit verander van goed na sleg.  Dit is egter wel, netsoos later, ‘n beweging van onder na bo.

Die teëbeeld, God se antwoord, teken die omkering van kwaad na goed, van bo na onder.  Kinders sal gebore word, die saad van die vrou sal die slang se kop vermorsel, die mens sal brood eet wat hy met sy eie sweet natgemaak het – van bo na onder.

Die belofte oor die saad van die vrou – die moederbelofte – is die eerste heerlike profesie oor die koms van Christus, die tweede mens, die Here uit die hemel (1 Kor 15:47). In die woorde oor Adam se sweet waarmee hy sy brood sou eet, hoor ons reeds die plofgeluid van Jesus se sweet wat soos bloeddruppels op die aarde val (Lk 22:44) om aan ons die brood van die nagmaal te gee (Lk 22:19).

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

DOOP DEEL 23

Die Heilige Gees het met tekens aangedui wat God oor die doop openbaar

Ons lees verskeie kere in die Handelinge dat die Heilige Gees met die dissipels gepraat en aan hulle gesê het wat Hy wou hê.

  • Byvoorbeeld in Handelinge 8:29 waar die Gees vir Filippus gesê het: “Gaan daarheen en bly by daardie wa”, die wa van die Ethiopiër wat hy sou doop.
  • In Handelinge 10:19 en 20 sê die Gees vir Petrus: “Daar is drie manne wat jou soek. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want ek het hulle gestuur”.  Die drie manne was boodskappers van die hoofman Cornelius.  Petrus se saamgaan sou lei tot Cornelius se bekering, die Heilige Gees wat op onbesnedene heidene uitgestort word en hulle doop met water.
  • Handelinge 13:2 sê: “En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.” Daarmee het Paulus se sendingopdrag begin, om die evangelie van Jesus die wêreld in te dra, veral Europa binne wat begin het met die bekering en doop van Lidia, die purpersverkoopster, en die tronkbewaarder van Filippi (Hand 16).

Let op dat die Heilige Gees aan die dissipels bevele gegee het om Christus se sendingopdrag (Mt 28:19, Hand 1:8) uit te voer.  In aldrie voorbeelde het dit tot die doop van sekere persone gelei, maar in nie een enkele geval is daar ‘n direkte opdrag van die Heilige Gees oor die doop self nie.  Wat die Gees oor die doop self wou openbaar, het Hy konsekwent deur tekens gedoen wat ons net onder sy leiding kan verstaan en verklaar.

  • Hy het Johannes die Doper van die moederskoot af vervul (Lk 1:15) en het Johannes van vreugde in die moederskoot laat opspring toe Elisabet die groet van Maria hoor (Lk 1:41, 44).
  • Hy het in die gedaante van ‘n duif op Jesus neergedaal nadat Jesus deur Johannes gedoop is (Mt 3:16, Mk 1:10, Lk 3:22 en Jh 1:32-33). Dit is hoe Johannes geweet het Wie die Persoon is wat na hom kom, sterker is as hy en wat met die Heilige Gees doop.
  • Op Pinksterdag het hulle die geluid van “geweldige rukwind” gehoor, hulle iets soos vuurtonge gesien wat verdeel en op elkeen gaan sit en hulle het in ander tale begin praat soos die Gees vir hulle gegee het (Hand 2:2-4).
  • Nadat Filippus die Ethiopiër gedoop het, het die Heilige Gees Filippus “weggevoer” en in Asdod weer laat verskyn (Hand 8:39-40).
  • Toe Ananias Paulus die hande oplê, het iets soos visskubbe van sy oë afgeval en hy kon weer sien en Paulus het opgestaan en is gedoop (Hand 9:17‑18)
  • Toe Petrus nog besig was om vir Cornelius-hulle te preek is hulle met die Heilige Gees vervul soos die dissipels op Pinksterdag sonder dat hulle besny was en hulle is daarom gedoop (Hand 10:44-48, 11:15-17). Petrus het hom hierop beroep in die vergadering van Handelinge 15 om te argumenteer dat die Gees aangedui het dat dit nie nodig was om die heidene te besny nie (Hand 15:7-11).
  • Nadat die Gees Paulus-hulle twee maal verhinder het om hulle eie koers te gaan, het Paulus ‘n gesig gesien van ‘n Macedoniese man wat sê “Kom oor en help ons?”. Dit het gelei tot die bekering en doop van Lidia en die tronkbewaarder en hulle gesinne (Hand 16:6-34).

Ons sal aantoon dat die Heilige Gees deur al hierdie sigbare en tasbare tekens nie net duidelik getoon het dat Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament nie dieselfde doop is nie, maar ook hoe die Heilige Gees wil hê die doop-as-sakrament bedien moet word.

Johannes-se-bekeringsdoop is die teken van die waterbedeling, die doop-as-sakrament is die teken van die vuurbedeling

Die Heilige Gees het in die vorm van ‘n duif op Jesus neergedaal nadat hy deur Johannes in die Jordaan gedoop is (Mt 3:16, Mk 1:10, Lk 3:22 en Jh 1:32-33) en op Pinksterdag het die dissipels vuurtonge gesien wat verdeel en op elkeen gaan sit.

Waarom het die Heilige Gees in die gedaante van ‘n duif op Jesus neergedaal, maar soos vuurtonge op sy dissipels gaan sit?

Om dit te verstaan moet ons teruggaan na Noag.  Petrus verbind die doop met Noag (1 Pet 3:18-22).  Noag het nadat die ark op Ararat tot rus gekom het, eers ‘n kraai uitgestuur (die kraaie het vir Elia by die spruitjie Krit gesorg) en daarna drie maal ‘n duif.  Die duif het oor die water gevlieg soos wat die Gees van God aan die begin oor die water gesweef het (Gn 1:2, 8:6-12).  Die duif tree op aan die einde van die vloed wanneer die aarde weer begin droog word; so het die Gees in die gedaante van ‘n duif op Jesus neergedaal toe Jesus uit die water opklim en dus begin droog word.  Die Gees het as’t ware geen rusplek gehad toe die aarde onder water was nie (Gn 1:2) soos wat die duif aanvanklik geen sitplek gehad het nie en telkens na Noag teruggekeer het (Gn 8:9-12).  Soos wat die ark (“tempel”) die rusplek vir duif was, is Jesus die enigste Rusplek vir die Gees op aarde.

Noag het die duif uitgestuur voordat hy self uit die ark gegaan het en aan die Here geoffer het.  Hy het rein diere en rein voëls, waarskynlik duiwe, geoffer (Gn 8:20).  By die geboorte van ‘n kind moes die moeder ‘n jaar oud lam as brandoffer en ‘n duif as sondoffer bring (Lev 12:6), maar as sy nie ‘n lam kon bekostig nie, moes sy twee duiwe offer, een as brandoffer en een as sondoffer (Lev 12:8, Lk 2:24).  Die Gees wat op Jesus in die gedaante van ‘n duif neergedaal het, het Hom nie net as Seun van God geidentifiseer nie, die rusplek vir die Gees in ‘n goddelose wêreldsee, maar as Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra (Jh 1:29, 36); dit is hoe Johannes die Doper geweet het Wie Jesus is, die Een wat met die Heilige Gees doop (Jh 1:32-33).

Petrus sê: “…dat daar van lankal af hemele was en ’n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het” (2 Pet 3:5-6).  Die toenmalige wêreld het begin met die Gees van God wat sweef op die waters (Gn 1:2) en geëindig met die duif wat vlieg oor die waters (Gn 8:9-12).  Johannes-se-bekeringsdoop is simbolies daaraan verbind, die teken daarvan is die Gees in die gedaante van die duif.

Maar op die bedeling van die water volg die bedeling van die vuur.  So vervolg Petrus: “Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense” (2 Pet 3:7).  Die vuur-einde van Sodom en Gomorra is die voorbeeld van die einde die teenswoordige hemele en aarde.

Die teenswoordige wêreld begin na Noag se offerande met die verbond wat God met Noag en sy seuns en met alle vlees sluit (Gn 9:1‑17).  Die teken van die verbond is die reënboog (Gn 9:12-17).  ‘n Reënboog verskyn wanneer die son deur vog in die lug skyn, dws wanneer daar ligte reën val.  Vir ‘n reënboog om te verskyn moet daar gelyktydig son en reën wees.   Die son is vuur, die reën is water.   Son en reën gelyktydig is kenmerkend van droogtetye wanneer los wolke reën terwyl die son rondom skyn.

Die teenswoordige wêreld begin met die son wat skyn op die droë aarde na die vloed en eindig met die vuur van God wat die elemente laat brand en vergaan (2 Pet 3:10).  Die wolke wat verskyn en los buie reën gee terwyl die son skyn, bring die reënboog.  Spieëlbeelding sê dat die wolke en reënboog moet verskyn voordat net die laaste vuur oorbly.  Dit is inderdaad wat gebeur in die natuur deur klimaatsverandering wat droogtes en oorstromings veroorsaak en in die menslike samelewing waar die reënboog die simbool geword het van die homoseksuele gedrag van Gam (Gn 9:22-24) en dié van Sodom (Gn 19:4-5).  Dit is maar net twee van vele tekens dat die einde op hande is.

Die teenswoordige wêreld is dus die bedeling van die vuur, van gelyktydige son en reën, die reënboog.  Die doop-as-sakrament is die teken van bedeling van die vuur en water, die reënboog.  Daarom het die vuurtonge hulleself verdeel en op die dissipels gaan sit.  Daarom was daar die geluid van ‘n geweldige rukwind.  Die Gees van God word ook met wind geassosieer; trouens die Hebreeuse woord “ruach” / “Gees” beteken “wind”.  Die wind sweef oor die waters en die winde dryf die wolke aan wat die reën en die reënboog bring.

Netso word die Heilige Gees dikwels met vuur geassosieer, bv in Openbaring waar die Gees as Sewe Vuurfakkels voor die troon van God beskryf word (Op 4:5)

Wind en vuur is manifestasies van energie.  Wind dryf die wolke en vuur aan.  Wind vertoon die skeppingskrag van God soos geen ander natuurverskynsel nie, behalwe reën, wat juis volg op wind.  Die wind dryf die dissipels aan oor die hele wêreld heen en die vuur gee hulle krag en laat hulle in ander tale praat om hulle opdrag te vervul om dissipels van alle nasies te maak en hulle te doop (Mt 28:19).

Die ou bedeling is, is die bedeling van die water, van ‘n aarde wat uit water en deur water ontstaan en daardeur oorstroom is en vergaan het.  Noag se redding in die ark word gesimboliseer deur Johannes se bekeringsdoop.

Die nuwe bedeling is die bedeling van die Heilige Gees en vuur, die bedeling wat begin met die reënboog, son en water, en eindig met die elemente wat brand en vergaan.  Die redding word gesimboliseer deur die doop-as-sakrament wat Jesus ingestel het.

Dit is wat Johannes bedoel het toe hy gesê het hy doop met water maar die Een wat na hom kom is sterker as hy; Hy sal die mense doop met die Heilige Gees en vuur (Mt 3:11, Mk 1:8; Lk 3:16; Jh 1:26-33).

Dit is waarom Petrus die doop-as-sakrament wat Jesus ingestel het, die teëbeeld noem van Noag se redding in die ark, die spieëlbeeld (1 Pet 3:18-22).  Die verbond met Noag en die reënboog as teken ná sy offerande, is die teëbeeld van sy redding in die ark.  Die doop-as-sakrament wat Jesus ingestel het, is die teëbeeld van Johannes-se-bekeringsdoop. Petrus stel die een beeld, Noag se redding, teenoor die teëbeeld van Johannes-se-bekeringsdoop.  Hy kan dit doen want Noag se redding is die parallelle afbeelding van Johannes-se-bekeringsdoop, en die teëbeeld daarvan, God se verbond met hom en die reënboog as teken, is die parallel van die Nuwe Verbond in Jesus se bloed en die doop-as-sakrament as teken daarvan.

Zacharias Venter
Oos-Londen
15 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

DOOP SKAKELS

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Doop deel 1: https://wp.me/p8E6eZ-1c
Doop deel 2: https://wp.me/p8E6eZ-1e
Doop deel 3: https://wp.me/p8E6eZ-1i
Doop deel 4: https://wp.me/p8E6eZ-1k
Doop deel 5: https://wp.me/p8E6eZ-1m
Doop deel 6: https://wp.me/p8E6eZ-1o
Doop deel 7: https://wp.me/p8E6eZ-1q
Doop deel 8: https://wp.me/p8E6eZ-1s
Doop deel 9: https://wp.me/p8E6eZ-1u
Doop deel 10: https://wp.me/p8E6eZ-1w
Doop deel 11: https://wp.me/p8E6eZ-1y
Doop deel 12: https://wp.me/p8E6eZ-1A
Doop deel 13: https://wp.me/p8E6eZ-1C
Doop deel 14: https://wp.me/p8E6eZ-1E
Doop deel 15: https://wp.me/p8E6eZ-1G
Doop deel 16: https://wp.me/p8E6eZ-1I
Doop deel 17: https://wp.me/p8E6eZ-1K
Doop deel 18: https://wp.me/p8E6eZ-1M
Doop deel 19: https://wp.me/p8E6eZ-1O
Doop deel 20: https://wp.me/p8E6eZ-1Q
Doop deel 21: https://wp.me/p8E6eZ-1S
Doop deel 22: https://wp.me/p8E6eZ-1U
Doop deel 23: https://wp.me/p8E6eZ-37
Doop deel 24: https://wp.me/p8E6eZ-3l
Doop deel 25:

 

DOOP DEEL 22

Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament is nie dieselfde doop nie.

Maar as enigiemand ten spyte van al die getuienis tot die teendeel steeds wil beweer dat Johannes mense ondergedompel het en dat Christene daarom ondergedompel moet word, dan loop die standpunt hom finaal vas teen die Skrif wat dit duidelik maak dat Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament nie dieselfde doop is nie.

Onderdompeldopers en Sprinkeldopers neem albei aan dat daar geen verskil is tussen Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament wat Jesus in Mt 28:19 ingestel het nie.

Calvyn probeer hard om diegene wat meen dat daar ‘n verskil tussen Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament is, te weerlê.  In die proses huiwer hy nie om die kerkvaders, Chrisostomos en Augustinus, kaalvuis aan te pak en te weerspreek nie: “Wie sou trouens eerder aan Chrisostomos gehoor gee wanneer hy verklaar dat sondevergiffenis nie in Johannes-se-bekeringsdoop ingesluit was nie, terwyl Lukas daarenteen verklaar dat Johannes die doop van berou tot vergifnis van sondes verkondig het?  Ook moet ons Augustinus se spitsvondighede nie aanvaar wanneer hy sê dat die sondes in Johannes-se-bekeringsdoop uit verwagting vergewe is, maar dat dit in die doop van Christus in werklikheid vergewe word nie” [1]

Maar Chrisostomos en Augustinus was nader aan die waarheid as Calvyn, al kan ek nie die kerkvaders se standpunte netso onderskryf nie.

Calvyn laat gewoon buite rekening dat Johannes nie mense in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees sou gedoop het soos wat Jesus sy dissipels in Mattheüs 28:19 beveel het nie.  God was nog nie as Vader, Seun en Heilige Gees bekend nie; die Here Jesus het Hom aan ons geopenbaar.  “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar” (Jh 1:18).  “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het” (Jh 17:6a).  “En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle” (Jh 17:26).

Netso min kan daar sprake wees dat Johannes mense in die Naam van die Here Jesus gedoop het, want Paulus het dissipels wat net met die doop van Johannes gedoop was weer gedoop in die Naam van Jesus.

Handelinge sê by herhaling dat die apostels die nuwe gelowiges in die Naam van die Here Jesus gedoop het.  Byvoorbeeld in Handelinge 2: “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Hand 2:38).  En Handelinge 8: “En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur.  15 Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang,  16 want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus” (Hand 8:14-16).  En Handelinge 10: “En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog ’n paar dae te bly” (Hand 10:48).

“EN terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ’n Heilige Gees is nie.  En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.   En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.  En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.” (Hand 19:1-6)

Calvyn probeer argumenteer dat Paulus nie die mense weer gedoop het nie, maar bloot die hande opgelê het.   Hy sê dat die handoplegging om die Heilige Gees te ontvang bloot verduidelik wat met “doop in die Naam van die Here Jesus” bedoel word.[2]

Maar Calvyn se argument gaan nie op nie.

Eerstens is dit gedwonge eksegese – ‘n voorafingenome standpunt wat op die teks afgedwing word!  Daar is geen aanduiding in die teks dat die teks anders verstaan moet word as wat daar in soveel woorde staan nie, nl dat Paulus hierdie mense weer gedoop het en daarna die hande opgelê het nie.

Tweedens gaan Calvyn se argument van die veronderstelling uit die handoplegging in die plek van die doop-as-sakrament gebruik kan word.  Dit is nie so nie.  Dat die doop-as-sakrament en handoplegging twee verskillende simboliese handelinge is, word baie gou duidelik as mens al die tekste nagaan waar van handoplegging ter sprake is, al hou die twee handelinge verband (Kyk “Die doop met water en oplegging van hande hou met mekaar verband, maar is nie dieselfde is nie”.)

Die kommentator, Howard Marshall, meen soos skrywer hiervan dat Paulus hierdie dissipels weer gedoop het:  “This is the only case in the New Testament of people receiving a second baptism, and it took place only because the previous baptism was not a Christian baptism in the name of Jesus” [3]

Hierdie was ook nie die enigste insident in Handelinge waar onderskeid getref is tussen Johannes‑se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament nie.   Net voor die doop van hierdie mense vertel Lukas ons hoe Aquila en Priscilla vir Apollos wat net van die doop van Johannes geweet het, se gebrekkige kennis verbeter het: EN ’n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandríë gebore was, ’n welsprekende man, het in Éfese aangekom; en hy was magtig in die Skrifte.  Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het.  En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Áquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê” (Hand 18:24‑26).  As die Johannes se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament dieselfde doop was, kon daar mos niks gewees het wat Aquila en Priscilla vir Apollos kon byleer nie.  Calvyn ignoreer Hand 18:24 26 nie net in sy Institusie nie maar ook in sy kommentaar op Handelinge 18.

Johannes die Doper het self uitdruklik tussen die twee onderskei: “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie.   Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur” (Mt 3:11 Vgl ook Mk 1:8, Lk 3:16, en Jh 1:26-33).

En Jesus herhaal dit self net voordat Hy na die hemel opvaar: “En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het.  Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie” (Hand 1:4-5).

Calvyn beweer dat die Johannes se woorde bloot op die twee persone, Johannes en Jesus, betrekking het.  Volgens Calvyn was “sy bedoeling … nie om een doop van ‘n ander doop te onderskei nie, maar hy het sy persoonlikheid met Christus se Persoon daarin vergelyk dat hy ‘n bedienaar van water was, maar Christus die Gewer van die Heilige Gees…”[4]

Natuurlik kontrasteer Johannes sy persoon met dié van Jesus.  Johannes sê dat hy nie waardig is om Jesus se skoenriem vas te maak nie.  Hy het Jesus teengegaan toe Jesus na sy doop gekom het en gesê: “Ek het nodig om deur U gedoop te word” (Mt 3:14).

Maar dit is baie duidelik uit die teks dat dit nie bloot om twee verskillende persone gaan nie, maar om twee verskillende dope juis omdat dit twee verskillende persone is.   Die eerste persoon doop net met water, die tweede Persoon doop met meer as water, Hy doop met die Heilige Gees en vuur.

Calvyn se fout, soos almal wat bloot aanneem dat Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament dieselfde doop is, was dat hy nie Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament in hulle openbarings-historiese konteks geplaas het nie.

Mense begryp gewoon nie die ommekeer wat Jesus se opstanding uit die dood gebring het nie, van dood na lewe, van die bedeling van die dood, die Ou Testament, na die bedeling van die lewe, die Nuwe Testament, van sewende dag rusdag na eerste dag rusdag, van bekeringsdoop na sakramentsdoop.   Die oorgang van pasga na nagmaal is ooglopend omdat die twee sakramente twee verskillende name het en omdat die twee by alle ooreenkoms duidelik verskil.  Die oorgrang van bekeringsdoop na sakramentsdoop is nie so ooglopend nie omdat die die twee dieselfde naam het, baptizoo/doop, en omdat die Here by die instelling in Mt 28:19 nie ‘n ooglopende bevel gegee het oor die wyse waarop dit bedien moet word nie.  Soos die Here beloof het, het die Heilige Gees die kerk daarin gelei (Jh 16:13).  Om die verskil tussen Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament wat Jesus ingestel het, te verstaan, vra dat dieselfde Heilige Gees ons in die waarheid lei en die Skrifte vir ons oopmaak.

[1] Johannes Calvyn: “Institusie van die Christelike Godsdiens Deel 4”. Vertaal deur Prof HW Simpson. CJBF, Potchefstroom 1992. p.1615

[2] J Calvyn: a.w. p.1626

[3] I. Howard Marshall in “Tyndale New Testament Commentaries, Acts”. Inter-Varsity Press. 1980. p.307

[4] J Calvyn: a.w. p.1616

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

DOOP DEEL 21

Elisa, die erfgenaam van Elia se Gees.

Elia en Elisa moet as ‘n vader-en-seun gesien word, ‘n onskeibare tweemanskap wat saam een van dié duidelikste afbeeldings van Christus in die Ou Testament verskaf wat daar is.  Dit is eers as hulle verhale soos twee deurskynende plate oor mekaar geplaas word dat ons die volle prentjie van Jesus in die Ou Testament sien.

Elia en Elisa is aan mekaar verbind soos wat geen ander twee profete in die Skrif aan mekaar verbind is nie.  Elisa is die enigste profeet waarvan ons ooit lees dat hy as profeet “gesalf” moes word (1 Kon 19:16).  Priesters en konings is in die amp gesalf, maar nie profete nie; die profete is almal persoonlik deur die Here geroep en met sy Gees toegerus.  Slegs ten opsigte van Elisa word die woord “salf” gebruik.  Dit was buitengewoon omdat die profeetskap nie ‘n amp was soos die van priester en koning nie, maar ‘n gawe van die Heilige Gees.

Elia het ook nie soos met die priesters en konings salfolie op Elisa se kop uitgegooi nie, maar sy mantel op hom gewerp (I Kon 19:19).  Elisa het dadelik verstaan wat Elia daarmee doen, nl sy diens as profeet op hom oordra.

Hierdie “salwing” aan die begin van Elisa se loopbaan, het ‘n asimmetriese spieëlbeeld aan die einde van Elia se loopbaan net voordat Elia in die hemel opgeneem is.  Elisa het toe vir Elia gevra dat ‘n “dubbele deel” van Elia se Gees op hom moet kom (2 Kon 2:9).  Elia het Elisa se versoek ‘n “harde saak” genoem omdat dit so ongewoon was (2 Kon 2:10).  Die “dubbele deel” verwys na die erfporsie van ‘n man se eersgeborene (Deut 21:17).  Wat Elisa eintlik gevra het was dat hy as Elia se eersgebore seun gereken moet word.  Hy wou die profeetskap en die Gees erf soos wat Salomo die koningskap van sy vader Dawid geërf het.   Dit was totaal ongehoord.  Want die profeetskap was nooit ‘n erflike saak soos die ampte van priester en koning nie.  Elisa het daarmee baie meer gevra as wat die Here hom aanvanklik beloof het by sy roeping toe Eilsa sy kleed op hom gegooi het of wat Elia by magte was om vir hom te doen.  Daarom het Elia met ‘n voorwaarde geantwoord:  “As jy my sien wanneer ek van jou af weggeneem word, laat dit dan so met jou wees.  Maar so nie, dan sal dit nie wees nie” (2 Kon 2:10).  Elia se hemelvaart wat in metaforiese taal beskryf word, was eintlik ‘n geheim; daarom het Elia eers hard probeer om van Elisa ontslae te raak voordat hulle deur die Jordaan is (2 Kon 2:1-6).  As die Here Elisa so sou begenadig dat Hy hom laat sien hoe Elia opvaar, beteken dit dat hy inderdaad die dubbele deel van Elia se Gees ontvang.

Dit het so gebeur en die ander profete het ook onmiddelik besef dat Elia se Gees op Elisa rus toe hulle sien hoe hy met Elia se mantel die Jordaan kloof en op droë grond deurgaan (2 Kon 2:15).  Elisa se terugkeer deur die Jordaan is ‘n spieëlbeeld van Elia se uittog deur die Jordaan en ‘n afbeelding van Israel se intog onder Josua.   Elisa is van daar na Jerigo (2:18), na Bet-el (2:23), na Karmel en Samaria (2:25); hy het as’t ware op Elia se spore teruggeloop na die berg waar Elia die volk gedwing het om te erken “Die HERE, Hy is God” (1 Kon 18:39).  Elisa se “intog” is die spieëlbeeld van Elia sy uittog en die afbeelding van Israel se intog.  Dit is ook ‘n afbeelding van Jesus se laaste reis, van Jerigo na Jerusalem om gekruisig te word.

Soos Jakob/Israel/Elia het Elisa heen en weer op droë grond deur die Jordaan/skeurvallei getrek, is met Elia se mantel “gesalf” tot profeet, selfs as sy eersgebore seun aangewys wat die profeetskap erflik van Elia ontvang.  GEEN ander profeet is ooit so gedoop nie, so onherroeplik gebind aan Elia, die skaduwee van Johannes die Doper in die Ou Testament nie.

Maar van onderdompeling is daar geen sprake nie.  Van ‘n mantel wat op hom gegooi word, van ‘n mantel wat van Elia af val en in sy hande soos Moses se staf word waarmee hy die Jordaan kloof en op droë grond deurgaan wel.

Tog word niemand in die Ou Testament so direk met die doop van Johannes in die Nuwe Testament verbind as juis Elisa nie.  Want dit is deur die diens van Elisa dat Naäman, die Siriër van sy melaatsheid gereinig is en tot die geloof gekom het.

Naäman is die enigste persoon in die hele Bybel wat ons beslis weet ondergedompel is.  Maar, let wel, soos die Jode in hulle mikvehs het hy homself gedoop en, baie belangrik, hy het nie Elisa se opdrag presies uitgevoer nie.

Elisa het gesê dat Naäman hom sewe maal in die Jordaan moet “was” (2 Kon 5:10), maar Naäman het sewe maal “ondergeduik” (2 Kon 5:14).  Die woord wat Elisa vir “was” gebruik het, is dieselfde woord wat by herhaling in die wette van Moses gebruik is.  Dit is gebruik vir die priesters wat hulle moes was, die offerandes wat gewas moes word, vroue en mans wat hulle moes was om rein te word.  Streng in ooreenstemming met die wet van Moses het Elisa beveel dat hy homself was.  Ook die “sewe maal” kom uit die wette van Moses waar dit by herhaling aan besprinkeling en net aan besprinkeling gekoppel word (Lev 8:11, 14:7 en 14:51).

Van onderdompeling was daar geen sprake in Elisa se opdrag nie – van besprinkeling wel!

Maar Naäman wat eers kwaad was en dit nie wou doen nie, gaan tot die ander uiterste oor toe sy ondergeskiktes hom oorreed en hy óórdoen dit – hy duik sewe maal met sy kop onder die water in!  Die Hebreeus gebruik die woord “tabal” wat “indompel” of “onderdompel” beteken, die Hebreeuse ekwivalent van die Griekse “baptizoo”.  Die Septuaginta vertaal dit dan ook met “baptizoo”.

Die woord “was” wat Elisa en sy diensknegte gebruik het, vertaal die Septuaginta met “luoo” wat gewoon “was” beteken.

Sowel die Hebreeuse teks as die Griekse Septuaginta, maak dit dus duidelik dat Naäman nie presies gedoen het wat vir hom gesê is nie, maar by wyse van spreke oorboord gegaan het.

Hy het blykbaar gedink die water sal sy onreinheid afwas.  Dat dit is hoe sy kop gewerk het, blyk duidelik uit die feit dat hy hom aanvanklik vererg het vir die opdrag van die profeet en gevra het waarom hy hom nie eerder in die riviere van Damaskus kon was wat volgens hom beter was as al die water in Israel nie.  Hy het dus gedink daar is iets magies in die water.  Dus: ‘Hoe meer water hoe beter’ het hy geredeneer.  Doen dit behoorlik!  En daar is geen beter manier as om dan heeltemal in die water in te duik nie.

Dat dit presies was hoe sy kop gewerk het, blyk ook uit die feit dat hy ‘n vrag grond vra, blykbaar om ‘n altaar in sy eie land te bou om aan die Here te offer.  Tipies heidense denke van daardie tyd dink hy dat die Here aan die grond en water van Israel gebind is (2 Kon 5:17); hy begryp nie dat God orals teenwoordig is nie.

Hy begryp nie dat daar geen magiese krag in die grond van Kanaän en die waters van die Jordaan is nie, dat dit die God van Israel is wat hom rein maak.  Maar die Jordaan was die poort waardeur God die volk die beloofde land ingelei het, waardeur Elia uitgegaan en Elisa weer ingekom het – op droë grond!  Die Jordaan, soos ons by herhaling aangetoon het, is beeld van die geboortekanaal van die wedergeboorte.

Waarom is Naäman dan gered terwyl hy die verkeerde idee gehad het oor wat die water doen en die opdrag verkeerd uitgevoer het?

Hy is nie op grond van sy verdienste gered nie, maar op grond van genade.  Sy doop in die Jordaan was geen verdienstelike werk nie, maar was ‘n teken van die Heilige Gees wat hom reinig en nuut maak.   Nie net sy liggaam het rein geword nie, sy gees is vernuwe.  Hy is weergebore.  En met ‘n totaal ander gesindheid het hy omgedraai en teruggery na die profeet, nie weer buite by sy wa gewag nie, maar in die profeet se nederige huisie ingestap en sy geloof in die God van Israel bely.

Die Here het hom gered al het hy oorboord gegaan met wat hy gedoen het, soos wat die Here water uit die rots by Mériba gegee het al het Moses oorboord gegaan en die rots geslaan in plaas van met die rots praat (Num 20:8-12).  Die Here het water gegee omdat Hy water wou gee, nie omdat Moses en die volk dit verdien het nie.  Netsoos Hy reën op die aarde gegee het na Elia se optrede by Karmel, nie omdat die volk dit verdien het nie, maar omdat Hy dit wou gee.  Maar, anders as met Naäman wat die Here nie oor sy eiesinnig gehoorsaamheid gestraf het nie, het Hy Moses en Aäron streng gestraf oor hulle vergryp; hulle sou nie die volk die beloofde land inlei nie.  Van Naäman wat nie van beter geweet het nie, het die Here dit verdra en hom gereinig juis om hom tot geloof en insig te bring; van Moses en Aäron het die Here dit nie verdra nie.

Naäman het eiesinnig gehoorsaam.  Die Heilige Gees het dit gebruik om nie net sy liggaam te genees nie, maar sy hart te verander.  Dat sy reiniging, fisies en geestelik, van die Heilige Gees gekom het, word deur die getal sewe beklemtoon.  Dit is die spieëlbeeld van die sewe maal wat Elia gebid het op Karmel (1 Kon 18:43-44), die Sewe Geeste voor die troon van God (Op 1:4, 4:5, 5:6 en 10:4).  Om homself sewe maal te was, het heengewys na die doop met die Heilige Gees wat Christus doen.

Van belang vir die doop in Naäman se reiniging is dat Elisa, streng in ooreenstemming met Moses se wette, hom beveel het om hom te “was”.  Sy onderdompeling was ‘n eiesinnige optrede gebore uit sy heidense opvattings wat ons vroeëre stelling bevestig dat die Joodse onderdompelings in die mikvehs wat in die laaste honderd jaar voor Christus ontstaan het, ‘n heidense oorsprong het.   Soos die Joodse mikvehs was dit ‘n selfdoendoop; Elisa het hom nie gedoop nie.  Van ‘n onderdompeling op die manier waarop die Onderdompeldopers doop is daar geen sprake nie.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

DOOP DEEL 20

Elia, die Ou Testamentiese Johannes die Doper

Ons het gesien dat Johannes die vervulling was van die belofte dat Elia sou kom (Kyk: “Johannes die Doper se taak as wegbereider…”).   Ons het daarop gewys dat Johannes in die gees van Elia die volk tot bekering geroep het – terug na die wet van Moses.

Maar op die oog af lyk dit asof die twee se werk verder niks met mekaar te doen het nie.   Elia is vir baie dinge bekend, drie-en-half jaar se droogte (I Kon 17), vuur uit die hemel (1Kon 18; 2 Kon 1) stortreën (I Kon 18), die oordeel oor Agab (I Kon 21) en sy hemelvaart (2 Kon 2:1-12), maar hy is nie daarvoor bekend dat hy mense gedoop het soos Johannes nie?   Wat het Elia dan werklik met Johannes en sy doop in gemeen?

Baie meer as wat mense dink!

Soos Johannes was (Elia) in die woestyne tot op die dag van sy vertoning aan Israel” (Lk 1:80). Volgens I Kon 17:1 was “Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead”.  Dié woorde moet waarskynlik eerder as “Elia, die besoeker onder die inwoners in Gílead” vertaal word.  Hy was dus nie ‘n burger van Gílead nie, maar het daar aan die oorkant van die Jordaan vertoef voordat sy bediening begin het.   Soos Jakob/Israel het Elia en Johannes heen-en-weer oor die Jordaan getrek, dieselfde skeurvallei waarin die Skelfsee ook is.  Hulle heen-en-weer trekkery was ‘n afbeelding van Jakob/Israel se heen-en-weer trekkery waardeur die doop aangedui is.  Elia eindig sy bediening soos hy dit begin het met ‘n trek deur die Jordaan wat aan dié van Israel deur die Skelfsee herinner (2 Kon 2).

Met die droogte wat hy aangekondig het, het Elia die woestyntoestande oor Israel gebring wat die volk ervaar het nadat hulle deur die Skelfsee is.   Na drie-en-‘n half jaar se droogte het net kaal, dorre aarde oorgebly (I Kon 18:5-6).

Aanvanklik het Elia by die spruitjie Krit, ‘n sytak van die Jordaan, weggekruip.  Die kraaie het vir hom brood en vleis gebring het en hy het water uit die spruit gedrink (I Kon 17:4-6).  Die brood en vleis was ‘n afbeelding van die manna en die kwartels wat die volk in die woestyn geëet het (Ex 16:12-14) en die water uit die spruit die spieëlbeeld van die water uit die rots (Ex 17:6; Vgl I Kor 1:1-4).  Sy verblyf by die spruit was dus ‘n afbeelding van Israel se verblyf in die woestyn waar hulle die Sinai-verbond en die wet ontvang het, ‘n simboliese terugkeer na Sinai.

Dit was ook ‘n voorafbeelding van Johannes die Doper wat in die woestyne en by die spruite weerskante van die Jordaan sou woon en van sprinkane en wilde heuning sou leef.

Die kraaie wat vir hom gesorg het, was ‘n spieëlbeeld van die kraai wat Noag uit die ark gestuur het en wat net doelloos heen en weer gevlieg het (Gn 8:7‑8).   Die droogte self waarin alles besig was om van dors te sterf, die omgekeerde beeld van die sondvloed waarin alle lewende wesens in die water verdrink het.   Dit was dus ook ‘n spieëlbeeld van Noag se redding in die ark.

Toe die spruit opdroog het die Here Elia na ‘n weduwee in Sarfat in Sidon gestuur (I Kon 17:9-16).

Die meel en olie van die weduwee wat nie opgeraak het nie, is ‘n afbeelding van die manna in die woestyn na die deurtog deur die Skelfsee (Ex 16), van die opbrengs van die land wat Israel geëet het na die deurtog (Jos 6:11-12) en van die brood wat die Here vermeerder het (Mt 14:14-21, 15:29-39 Mk 6:30-44, 8:1-10, Lk 9:10-17, Jh 6:1-14).  Dit was die voorbereiding vir die “doop by Karmel” soos die manna in die woestyn die water uit die rots voorafgegaan het en die vermeerdering van die brood Jesus se stap oor die see voorafgegaan het.

Na die drie-en-‘n half jaar se droogte het die Here Elia teruggestuur na Agab.  Elia het vir Agab gesê om die volk by die Karmelberg byeen te roep en al die profete van Baäl en Asjera saam te bring (I Kon 18:18-20).

Elia het die volk gevra om te kies wie God is, Baäl of die HERE, maar hulle het hom nie geantwoord nie.  Toe het hy voorgestel dat hulle toets wie God is.  Die Baäl-profete moes ‘n bul slag en ‘n offerande voorberei, maar geen vuur maak nie, en hy sou so ook so ‘n offerande gereedkry sonder om vuur te maak.  Elkeen moes tot sy God bid en die God wat met vuur antwoord, is God.   Die volk het ingestem (I Kon 18:21-24).

Soos te verwagte het die Baäl-profete se gebede onbeantwoord gebly en Elia het met hulle gespot (I Kon 18:25-29).

Uiteindelik het Elia se beurt gekom.  Hy het die altaar van die Here met twaalf klippe herstel, hout op die altaar gepak en die bul bo-op die hout.  Hy het ‘n sloot rondom die altaar gegrou.  Daarna het hy drie keer vier kanne water op die offerande gegooi, soveel water dat die sloot gevul is.  Toe hy bid het die HERE met vuur geantwoord wat nie net die offerande verteer het nie, maar ook die klippe en die water in die sloot.  “En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God!” (I Kon 18:30-39).

Ons het hier met ‘n afbeelding-spieëlbeelding te doen van die verbondsluiting by Sinai (Ex 24).  Voor die offerande en verbondsluiting by Sinai het Moses die volk hulle klere laat was en hulle geheilig (Ex 19:14); Elia het die volk tot bekering geroep en water oor die offerande gegiet.   By Sinai het die volk beloof hulle sal alles doen wat die Here sê; by Karmel het hulle net stilgebly toe Elia hulle vra om te kies wie God is.  Moses het by Sinai ‘n altaar vir die Here gebou en twaalf gedenkstene opgerig volgens die twaalf stamme (Ex 24:4); Elia het by Karmel die altaar van die Here herstel met twaalf klippe vir elke stam.  Moses het by Sinai brandoffers en dankoffers laat slag (Ex 24:5); Elia het by Karmel ‘n bul geslag!   Moses het by Sinai die helfte van die offerbloed teen die altaar uitgegooi (Ex 24:6) –  ‘n afbeelding van die bloed van Christus wat teen die kruis afgeloop het; Elia het by Sinai die offervleis bo-op die hout op die altaar geplaas, ‘n afbeelding van Christus wat aan die kruishout vasgespyker is, en water oor die offer uitgegiet.

Die water wat hy oor die offerande gegooi het, was natuurlik om die moontlikheid van gewone vuur te blus sodat daar geen twyfel oor sou wees dat dit die Here is wat met vuur uit die hemel antwoord nie.

Maar dit was meer as dit.  Dit was ‘n afbeelding van die offerandes wat gewas moes word voordat dit geoffer word(Lev 1:9 en 1:13).  Die wette van Moses het bepaal dat die binnegoed en pote gewas moet word, maar hier het Elia die hele offerande gewas.    Dit wys heen na Johannes wat Jesus sou doop.  Soos Elia die offerande by Karmel gewas het voordat God dit self met vuur verteer het, het Johannes die enige offerande, Jesus gewas voordat Hy Homself  op Golgota geoffer het.  Jesus het Homself laat was asof Hy “binnegoed en pote” is – afval!

Dis belangrik om te besef dat Elia die water op die offerande gegooi het wat afgeloop het tot in die sloot wat soos ‘n rivier daaromheen was.  Elia het nie die offerande in water gedompel nie.   Wat ons stelling bevestig dat Johannes nie mense/Jesus ondergedompel het nie, maar in die water laat staan en water oor hulle gegooi het.

Die getalle wat genoem word, is nie toevallig nie.  Vier kruike water is drie maal oor die offerande gegooi.  Vier maal drie is twaalf.   Dit is ‘n spieëlbeeld van die twaalf gedenkstene wat Moses opgerig het en die twaalf klippe waarmee Elia die altaar herstel het.

Die twaalf kruike water wat oor die twaalf gedenkstene vir elke stam uitgegooi is, is terselfdertyd ‘n afbeelding van die doop van die “hele volk” – Israel – deur Johannes in die Jordaan.  Dit is waarom die skrywer van Konings ons herinner aan Jakob se naamsverandering by die Jabbokrivier – aan Jakob se doop!

Mens kan die vier en drie ook anders bereken, nl as vier plus drie wat die antwoord sewe gee.  Sewe is die getal van die Heilige Gees (Op 1:4, 4:5, 5:6 en 10:4).  Die water wat oor die offerande uitgegiet word is dus ook simbool van die Heilige Gees wat uitgestort word.  Dit wys heen na die Heilige Gees wat in die gedaante van ‘n duif op Jesus neergedaal het nadat Hy gedoop is.  Die “vuur”, waarskynlik weerlig, wat uit die hemel geval en die offerande verteer het, is metafoor van die Sewe Geeste van God (Op 1:4), Sewe Fakkels (Op 4:5), Sewe Donderslae (Op 10:4).  Dis ‘n afbeelding van die helse vuur wat op ons Here Jesus op Golgota geval het toe Hy van God verlate was.  Dit is ‘n afbeelding van die vuurtonge wat op Pinksterdag op die dissipels gaan sit het om hulle met krag uit die hoogte toe te rus – die sigbare voorstelling van die Gees wat op hulle uitgestort is.

Die erkenning van die volk “Die HERE, Hy is God” die HERE, Hy is God”, is ‘n spieëlbeeld van die “…stem uit die hemele wat sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Mt 3:17) toe Jesus gedoop is.  Dit is ook die spieëlbeeld van Thomas se woorde “My Here en my God” (Jh 20:28) nadat Jesus met die kruis gedoop is, op sy dissipels geblaas het om hulle met die Heilige Gees te doop (Jh 20:22) en Thomas soos die Israeliete by Karmel gekonfronteer is met die bewyse dat Jesus waarlik Here is (Jh 20:24-27).  En dit is ‘n spieëlbeeld van die Israeliete wat op Pinksterdag gesê het “Wat moet ons doen, broeders?” (Hand 2:37).

Netso herinner Elia se gebed daarna op Karmel – sewe maal! – ons aan die Heilige Gees.  Die wolkie so groot soos ‘n man se hand wat sy dienaar uit die see sien opkom het nadat hy die sewende keer sy gesig tussen sy knieë gedruk het, is ‘n afbeelding van die Gees van God wat op die water gesweef het (Gn 1:2) en die wolk waarin die Here voor die volk uit Egipteland getrek het – waarin hulle gedoop is (I Kor 1):1-4).

Die heerlike stortreën wat dit gebring het, ‘n afbeelding van die bloed wat Moses met die verbondsluiting by Sinai oor die volk gegooi het (Ex 24:8) tydens die Fees van die Weke (of “Eerstelinge”; Ex 23:15-16), die afbeelding van die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag soos die Fees van die Weke in die Nuwe Testament genoem word.

Van onderdompeling is daar in die verhaal van die Ou Testamentiese Johannes die Doper geen sprake nie! – net van dorre aarde, woestyntoestande, brood en water uit die hemel soos wat die volk op die trekpad in die woestyn geken het.  Ons sien twaalf kruike water wat op die offerande gegooi word terwyl die altaar se fondamente (“voete”) simbolies in die water staan.  Ons hoor van stortreën uit die hemel wat die volk doop.   Maar daar is netmooi NIKS in die werk van Elia wat heenwys na Johannes die Doper wat enigiets met onderdompeling te doen het nie.

Wanneer Elia se tyd kom om na die hemel te vaar, keer hy terug na Gilgal waar Josua en Israel die land binnegekom het.  Hy gaan van Gilgal (Jos 4:19) na Bet-el, die tweede plek wat Israel verower het (Jos 8:12-17), vandaar na Jerigo die eerste plek wat hulle oorwin en wat met die banvloek getref het (Jos 6:21), na die Jordaan waar hulle die land binnegekom het.   Soos Israel op droë grond deur die Jordaan die land binnegekom het, so is Elia saam met Elisa op droë grond in die teenoorgestelde rigting deur die Jordaan die land uit.

Elia se uittog saam met Elisa deur die Jordaan is terselfdertyd ‘n afbeelding (dws parallel) aan Israel se uittog uit Egipte op droë grond deur die Skelfsee (Ex 14:15-22).  Moses het destyds met sy staf op die water geslaan en dit is na weerskante verdeel; Elia het sy mantel opgerol en op die water geslaan het “… en dit is na weerskante verdeel, sodat hulle twee op droë grond deurgegaan het” (2 Kon 2:8).  Die deurtog was Elia en Elisa se doop voordat hy na die hemel opgevaar het.

Dit was ook ‘n spieëlbeeld van Johannes die Doper se persoonlike doop toe hy heengegaan het om met Christus te wees.   Johannes se kop is in die gevangenis afgekap op aandrang van Herodias wat Johannes gehaat het soos wat Isébel Elia gehaat het (Mk 6:17-28).  Sy kop is in ‘n skottel vir Herodia gebring.  Sy dood in die gevangenis waardeur hy heengegaan het om met Christus te wees (Fil 1:21-24), is die asimmetriese spieëlbeeld van Elia se deurtog deur die Jordaan op droë grond voordat hy in die storm na die hemel gevaar het (2 Kon 2:11).  Elia en Elisa is waarskynlik met watersproei besprinkel; Johannes se kop is in sy eie bloed in die skottel gedoop.

Weereens is daar in albei gevalle van onderdompeling nie sprake nie, van besprinkeling met water en bloed wel.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

DOOP DEEL 19

Israel se intog deur die Jordaan

Israel se intog deur die Jordaanrivier (Josua 3:14-4:18) is ‘n spieëlbeeld van Israel se uittog uit Egipte deur die Skelfsee.   Israel het ooswaarts deur die Skelfsee oor die foutlyn Arabië binnegetrek na Horeb; hulle het weswaarts deur die Jordaan oor dieselfde foutlyn Kanaän binnegetrek.  By die Skelfsee was die water soos twee mure weerskante (Ex 14:22); by die Jordaan het die water soos ‘n muur een kant opgerys terwyl die ander wegloop en verdwyn in die rigting van die Soutsee (Jos 3:16).  By die Skelfsee het Moses met sy staf op die water geslaan en dit is deur ‘n wind gekloof wat die hele nag gewaai het (Ex 14:16 en 21-22); by die Jordaan het die priesters wat die ark dra voor geloop en toe hulle voete in die water is, het die water aan die bo-kant begin opdam terwyl die ander water wegloop (3:15-16).

Die volk wat uit Egipte getrek het, almal wat ouer as twintig jaar was, het in die woestyn omgekom (Num 14).  Die volk het deur hulle ongeloof die verbond wat God by Horeb met hulle gesluit het (Ex 24:8), verbreek en moes daarom veertig jaar in die woestyn swerf.  Die seuns wat in dié veertig jaar gebore is, is nie besny nie omdat die verbond verbreek was.  Josua het hulle besny nadat hulle deur die Jordaan getrek het (Josua 5:2-6).

Die deurtog deur die Jordaan was die reinigingsdoop voordat hulle besny kon word.  Op die voorpunt was die ark met die twee kliptafels van die wet/verbond daarbinne.   Die ark in die allerheiligste van die tabernakel/tempel het die hart van die mens in die borskas gesimboliseer, die liggaamstempel.  Die ark op die voorpunt wat deur die Jordaan se water gaan, simboliseer die doop van die hart! – die wedergeboorte!  Die priesters met die ark op hulle skouers wat die volk in die Jordaan doop, is ‘n heenwysing na die profeet Johannes uit die priestergeslag van Zacharias[1] wat die volk in die Jordaan sou doop.

Van onderdompeling is geen sprake nie.  Dis net die priesters – die bedienaars van die offers! – wat nat word! – en ook net hulle voete!   Soos by die Skelfsee het die volk op droë grond deur die Jordaan gestap, wel met die voete en lywe onderkant die wateroppervlak, maar droog.  En soos by die Skelfsee is dit ondenkbaar dat daar geen watersproei op hulle sou gereën het van die water wat soos ‘n damwal bokant hulle koppe oprys nie.

Jakob se intog in Kanaän

Israel se uittog uit Egipte en intog in Kanaän was ook ‘n afbeelding van Jakob se vlug na Paddam-Aram en sy terugkeer na Kanaän.  Met sy terugkeer het hy, toe hy hom in gebed voor God verootmoedig uit vrees vir sy broer Esau, gesê “…ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword” (Gn 32:10).  Soos die volk twee laers geword het voor hulle intog deur die Jordaan (Numeri 32, Josua 1:12-18).

Die nag toe Jakob sy gesin deur die Jabok rivier laat trek het – Dit was hulle doop voordat hulle Kanaän kon binnegaan – het die HERE fisies met hom geworstel.  Jakob het die verbond wat deur sy besnydenis beseël was, verbreek toe hy sy pa bedrieg en sy broer se seën gesteel het (Gn 27).  Die verbond moes herstel word voordat hy die beloofde land kon binnegaan.  Daardie nag het die HERE hom gedwing om te erken dat hy “Jakob”, dws bedrieër, is.  Die HERE het sy heupbeen uit lit geslaan wat hom mank gelaat het.  Hy is naby aan die liggaamsdeel waar hy besny is, geslaan; sy mankheid sou hom vir altyd daaraan herinner – soos die nuwe naam wat hy ontvang, Israel.  Daardie nag het die groot kentering in sy lewe gekom.  Hy het daar aangekom as die fisies-gesonde maar geestelik-siek Jakob en daar weggehink as fisies-gestremde maar geestelike-nuwe Israel.  ‘n Mens kan dit Jakob se wedergeboorte noem.  Die belangrike punt is dat hy en sy hele gesin – twee laers! – in die Jabbok gedoop is.  Hulle voete het nat geword toe hulle deur die water loop, maar hulle is nie ondergedompel nie!

[1] Die naam Zacharias is die Nederlandse en Afrikaanse transkripsie van die Griekse weergawe van die naam Zagaria, soos wat Judas die Grieks vir Juda is en Jesus vir Josua.  Die naam word in sowel die oorspronklike Hebreeus as Grieks en alle tale met ‘n Z gespel.  Dit is heetemal onduidelik en inkonsekwent waarom die Afrikaanse Bybelvertalers dit anders vertaal as ander name, byvoorbeeld Judas en Jesus.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

DOOP DEEL 18

Israel se uittog uit Egipte deur die Skelfsee.

“Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die HERE het deur ’n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en die waters is gekloof.  En die kinders van Israel het midde-in die see getrek op droë grond. En die waters was vir hulle ’n muur aan hul regter — en aan hul linkerkant” (Ex 14:15-22).

“WANT ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Kor 10:1-4).

Paulus gebruik ook die woord “dia” om te sê “deur die see heen”.  Exodus 14:22 sê dat Israel het midde-in die water op droë grond deur die see getrek terwyl die water soos mure weerskante van hulle was.   Hulle het dus deur ‘n droë kanaal in die water gestap.  Hulle was binne-in die see, maar het op droë grond gestap.  Hulle het Moses en die wolk gevolg in en is deur die see heen op droë grond.  Hulle is “in Moses, in die wolk en in die see” gedoop maar nie soos die Egiptenaars ondergedompel nie.  Soos met Noag en sy gesin, selfs nog meer, is dit egter ondenkbaar dat die seesproei nie oor hulle gewaai het en druppels op hulle gereën het nie, juis omdat ‘n sterk wind die see so oopgewaai het en hulle in die wolk was.  Hulle het deur die water heen op droë grond gegaan, voete en dalk hande onderkant die wateroppervlak, droog, maar waarskynlik tog besprinkel.

En die kinders en die vee is by dié doop ingesluit, soos hulle saam met Noag in die ark was.  Die kleinste ou babatjies, selfs die ongebore babas in die moederskoot, is saam gedoop in Moses in die wolk en in die see.

Moses in die mandjie uit die water getrek

Dat daar ooreenkoms tussen Noag se “ark” en Moses se “mandjie” is, kan gewone lesers wat net toegang tot vertalings het, ook sien.  Albei vaartuie is immers met pik bestryk

“En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.  Maak vir jou ’n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk” (Gén 6:13-14).

“Toe gee Farao aan sy hele volk bevel en sê: Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp, maar al die dogters kan julle laat lewe.   EN ’n man uit die huis van Levi het gegaan en ’n dogter van Levi geneem.  En die vrou het swanger geword en ’n seun gebaar. En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek.  Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom ’n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit” (Ex 1:22-2:3).

Wat egter nie in vertalings uitkom nie, is dat dieselfde Hebreeuse woord vir “ark” en vir “mandjie” gebruik word, nl “tebah”.  Die woord “tebah” word slegs in hierdie twee gevalle in die Bybel gebruik en koppel dus die “ark” en die “mandjie” direk aan mekaar.   Die Hebreeuse Bybel gebruik ‘n ander woord, “ha-aroon”, vir die verbondsark wat Moses in die woestyn gemaak het.[1]

Die oorsprong van die woord “tebah” en die presiese betekenis daarvan is onseker.  Wat wel duidelik is, is dat dit na ‘n vaartuig verwys wat van hout of papirus gemaak is, waarskynlik tipies langwerpig met geronde ente soos ‘n ovaalvormige mandjie.  En wat duidelik is is dat die skrywer van Exodus ‘n direkte verband tussen die vaartuig van Noag en die mandjie van Moses wou trek.

Moses in die mandjie in die Nylwater is ‘n afbeelding van Noag in die ark in die vloedwater.  Soos Noag en sy gesin in die ark gered is terwyl die ander mense rondom hom verdrink het, is Moses in die mandjie gered terwyl die ander seuntjies in die water gegooi is en verdrink het (Ex 1:22).  Moses wat in die mandjie uit die water getrek word soos sy naam sê, wys heen na die Moses wat die volk deur die Skelfsee uit Egipteland uitgelei het.  Moses in die mandjie is die spieëlbeeld van Israel se redding “deur die water heen” hulle doop in Moses en in die wolk en in die see (I Kor 10:1‑4).  Dit is Moses se persoonlike doop! – as baba! – en wys heen na Johannes die Doper wat in die moederskoot sou opspring (Lk 1:41 en 44) en uiteindelik na Jesus wat in doeke toegedraai in die krip lê (Lk 2:7 en 12), netsoos die seuntjies wat in die Nylrivier gedood is, heengewys het na die seuntjies wat in Betlehem en omgewing doodgemaak is (Mt 2:16-18)

[1] Die oorspronklike Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta, gebruik weer dieselfde woord, “kibootos”, vir Noag se ark en die verbondsark en ‘n ander woord, “thibin”, vir Moses se mandjie.  Die Latynse Vertaling het die Griekse gevolg en dit met “arca” wat “kis” beteken vertaal; ons woord “ark” kom van die Latynse “arca”.  Die Nuwe Testamentiese skrywers het ook die Septuaginta se voorbeeld gevolg en verwys na Noag se ark en die verbontsark as “kibootos”.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

DOOP DEEL 17

Daar is geen Skrifbewys dat Johannes mense ondergedompel het nie

Onderdompeldopers haal gewoon verskeie tekste aan as “bewys” vir die aanname dat Johannes mense ondergedompel het, onder andere  Mattheüs 3:16 “En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ’n duif neerdaal en op Hom kom.”  Vergelyk Markus 1:10.  Onderdompeldopers beweer die feit dat Mattheüs en Markus sê dat Jesus uit die water opgeklim het, bewys dat Jesus ondergedompel is.

Maar dit bewys gladnie dat Jesus ondergedompel is nie, dit bewys hoogstens dat sy voete of bene in die water was.   Die woorde maak ewe goed sin as mens sou aanneem dat Hy met sy voete/bene in die water gestaan het en dat Johannes water oor sy kop en hande gegooi het.

Onderdompeldopers haal ook graag Johannes 3:23 aan dat Johannes in Enon naby Salim gedoop het “omdat daar baie water was” as sou dit bewys dat hy mense ondergedompel het.  Maar dit bewys eweneens nie dat hy mense ondergedompel het nie.  Dit sê niks oor die manier waarop hy gedoop het nie.

Die woord “enon” beteken fontein.  Dit is onseker waar die plek was.   Die “baie water” sê nie dat Johannes mense ondergedompel het nie.  Dit sê hoogstens dat daar genoeg water was dat Johannes die mense daar kon doop sonder dat hy ander gebruike benadeel.

Dieselfde geld van Betábara aan die oorkant van die Jordaan waar Johannes Jesus gedoop het (Jh 1:28).  Dit is onseker waar die plek is, maar duidelik was dit nie die Jordaan self nie, waarskynlik een van die klein sytakke.

Wat duidelik is, is dat Johannes nie die heeltyd op een plek gepreek en gedoop het nie, maar op verskillende plekke en dat hy plekke gekies het wat geskik was vir die doel.  Dit sê niks oor hoe hy gedoop het nie.

Vóór-beelde van Johannes-se-bekeringsdoop in die Ou Testament bevestig dat Johannes nie mense sou ondergedompel het nie

Soos die Ou Testamentiese offers wat voortdurend herhaal moes word, moes die reinigingshandelinge voortdurend daarmee saam herhaal word.   Soos wat die voortdurende offers heengewys het na die eenmalige offerande van Jesus Christus aan die kruis, het die voortdurende reinigingsbaddens, hande en voete was, en besprinkelings heengewys na die doop van Johannes, ‘n eenmalige en unieke gebeurtenis in die geskiedenis wat Jesus se eenmalige offerande voorafgegaan het.

Daar is ook historiese gebeurtenisse in die Ou Testament wat heengewys het na die doop van Johannes.  Noag se redding en Israel se deurtog deur die Skelfsee word in die Nuwe Testament direk met die doop verbind.

Maar dit is nie die enigste nie.  Al word die doop nie genoem nie, is dit duidelik dat Moses se redding in die mandjie, Israel se intog deur die Jordaan die land Kanaän in, Elia en Elisa se deurtog soos Israel deur die Skelfsee en die Jordaan, en Naäman se reiniging in die Jordaan almal na Johannes-se-bekeringsdoop heenwys.

Noag se redding in die ark.

I Petrus                3 kontrasteer Noag se redding en die doop-as-sakrament: “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring — Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;  in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis,  wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is;  waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ’n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ’n bede tot God om ’n goeie gewete — deur die opstanding van Jesus Christus  wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is” (I Petrus  3:18‑21).

Die doop-as-sakrament is nie ‘n afbeelding van Noag se redding in die ark nie, maar ‘n spieëlbeeld!  Dit is nie ‘n beeld (“tipe”) nie, maar ‘n teëbeeld (“anti-tipe”)  Dit beteken dat Christus se doop parallel aan Noag se redding is, maar tog ook omgekeerd.

Beteken die omkering dat Christus se doop, anders as Noag se redding, onderdompeling beteken?   Nee, alles behalwe!  Die omkering gaan oor ‘n verandering van onder na bo wat ons later in detail behandel.

Maar Noag se redding is wel parallel aan Johannes-se-bekeringsdoop.  Dit is ‘n afbeelding van Johannes-se-bekeringsdoop.

Terwyl die res van die mensdom ondergedompel is, is Noag en sy gesin saam met ‘n klompie diere in die ark van verdrinking gered.

Maar, let wel, Petrus sê hulle is “deur water heen” gered.  Die voorsetsel wat met “deur … heen” vertaal is, is die Griekse woord “dia”.  Dit druk die gedagte uit van ‘n deurgang waardeur iets of iemand gaan, byvoorbeeld ‘n baba deur die geboortekanaal heen, water deur ‘n pyp heen, ‘n vliegtuig deur die lug heen.  Die gedagte is dus dat die ark ‘n “poort” is waardeur Noag en sy gesin heen gered is.  Hulle is “deur die water heen” na die veilige rusplek op die berg; dit wil sê nie OP die water nie, maar DEUR die water heen!

“Deur die water heen” beteken nie ondergedompel nie en kan nooit ondergedompel beteken nie.  Hulle is juis nie soos die ander mense ondergedompel nie, maar het deur water heen op die droë drywende eiland, die ark, heen gegaan – soos wat Israel deur die water van die Skelfsee heen op droë grond getrek het.   Wanneer hulle afgeklim het na die onderste dele van die skip was hulle wel onderkant die wateroppervlak, maar steeds droog en veilig.

Die stortreën wat veertig dae en nagte aangehou het, het ook op die ark geval waarin hulle was.  Dit is ondenkbaar dat geen vog op hulle gekom het nie.  Hulle is deur die water heen, nie onderdompel nie, maar wel simbolies met die voete in die water deeglik met reën uit die hemel besprinkel.

Let wel, Noag alleen het genade in die oë van die Here gevind (Gn 6:8), maar sy vrou en seuns met hulle vrouens is saam gered (Gn 7:1).

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

DOOP DEEL 16

Hoe het Johannes dan wel gedoop?

Johannes het waarskynlik die mense met hulle voete in die water laat staan het en water op hulle koppe en hande gegooi.

Die aand van die voetwassing toe die Here vir Petrus sê as Hy hom nie was nie het hy geen deel aan Jesus nie (Jh 13:8), het Petrus, geantwoord: “Here, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof.” (Jh 13:9).  Let wel dat Petrus nie vra dat Jesus dan sy hele liggaam moet was nie , maar hy vra net dat Jesus dan ook sy hande en sy hoof moet was.

Al het Jesus gesê “As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie” (Jh 13:8), vra Petrus nie dat Jesus dan sy hele liggaam moet was nie, want dit sou ‘n onbehoorlike indringing in die privaatheid van die liggaam wees – in stryd met die wet van Moses (Ex 20:26).

Maar netso is Petrus se versoek om dan ook die hande en die hoof te was nie uit die lug gegryp nie.  Hy sou geweet het dat voete, hande en hoof, dws al die eindpunte simbolies die hele liggaam insluit (Ex 29:20); dit is die dele wat nie met klere bedek is nie.

Klere is ook as deel van die reinigingshandelinge gewas omdat dit as bedekking vir en teen die sonde/elemente gegee is (Ex 19:10[1]).  Maar hier was klere nie ter sprake nie, behalwe vir Jesus wat sy eie klere uitgetrek en ‘n doek om hom vasgemaak het – soos ‘n slaaf!

Petrus het dit as ‘n reinigingshandeling voor die offermaaltyd, die pasga, herken en het daarom aangedring dat dit dan gedoen word op ‘n wyse wat ooreenstem met die bekende reinigingshandelinge – nie net die voete nie, maar ook die hande en die hoof!

Sy versoek het verband gehou met hoe die priesters gereinig is (Ex 29:20) en hoe Johannes die mense gedoop het.  Petrus was immers ‘n dissipel van Johannes voordat hy ‘n dissipel van Jesus geword het.  Hy het geweet hoe Johannes mense gedoop het (Jh 1:35‑43).  Jesus se dissipels het self ook mense gedoop terwyl Johannes nog besig was om te doop en hulle sou waarskynlik ook gedoop het soos wat Johannes gedoop het (Jh 3:26 en 4:1-2), voete, hande en hoof.

Want dit stem ooreen met die wette van Moses soos ons hierna aantoon.

Die reinigingswette en offerwette van Moses bevestig dat Johannes nie mense sou onderdompel nie maar eerder water op hulle sou gooi

Die reinheidswette in Exodus, Levitikus en Numeri beveel verskeie kere dat klere en (heilige) voorwerpe gewas moes word.   Saam met die klere wat gewas moes word, moes die persoon ook dikwels ‘n bad neem.   In ander gevalle is die persoon met water besprinkel.  Soms was daar ‘n kombinasie van klere was, bad en die persoon met water sprinkel.

Die belangrike punt is dat die wette bepaal het dat elke persoon self sy/haar eie klere was, hom-/haarself bad soos wat die Jode steeds in die Mikveh’s doen waar privaatheid streng gehandhaaf word.

Maar wanneer iemand anders jou reinig, sê die wet konsekwent dat hy die onreine moet sprinkel.

Die onderliggende beginsel is duidelik, naamlik die beskerming van die privaatheid van elke persoon se liggaam.  Dit is goed en reg dat elkeen sy eie liggaam was, maar ‘n bedienaar van die Here se genade mag nie met sy oë en nog minder sy hande die privaatheid van ‘n ander dissipel se liggaam binnedring nie.

Was en bad moes mens self doen

Ons haal slegs enkele tekste aan waarin “bad” en “was” beveel word sonder die verband omdat ons bloot wil aantoon dat dit selfdoen was; die volledige lys van al die tekste wat konsekwent dieselfde punt tuisbring verskaf ons in voetnota[2].  Enige leser is vry om die tekste self na te gaan en in volle verband te lees.  Die verband maak geen verskil aan die punt wat ons wil tuisbring nie.

  • “En elkeen wat aan sy bed raak, moet sy klere was en ’n bad neem …” (Lev 15:5).
  • “…en die een wat gaan sit op die voorwerp waarop hy gesit het wat die vloeiing het, moet sy klere was en ’n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein…” (Lev 15:6).
  • ”…en die een wat aan die liggaam raak van hom wat die vloeiing het, moet sy klere was en ’n bad neem ….” (Lev 15:7).
  • “En as hy wat die vloeiing het, op ’n reine spuug, moet dié een sy klere was en ’n bad neem…” (Lev 15:8).
  • “En die een wat dit dra, moet sy klere was en ’n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein” (Lev 15:10b).
  • “En elkeen aan wie hy raak wat die vloeiing het, sonder dat hy eers sy hande in die water afgespoel het, dié een moet sy klere was en ’n bad neem…” (Lev 15:11).

‘n Bedienaar wat iemand anders reinig moes die persoon besprinkel

  • “Dan moet jy van die bloed wat aan die altaar is, neem en van die salfolie en dit sprinkel op Aäron en op sy klere sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns saam met hom, dat hy heilig kan wees en sy klere sowel as sy seuns en die klere van sy seuns saam met hom” (Ex 29:21).
  • “Moses het ook van die salfolie en van die bloed wat aan die altaar was, geneem en dit op Aäron, op sy klere, sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns gesprinkel. So het hy dan Aäron, sy klere, sowel as sy seuns en die klere van sy seuns geheilig” (Lev 8:30).
  • “En hy moet op hom wat van die melaatsheid gereinig moet word, sewe maal sprinkel en hom reinig, en die lewendige voël moet hy oor die oop veld laat wegvlieg” (Lev 14:7)
  • “Dan moet hy die sederhout en die hisop en die skarlakendraad en die lewendige voël neem en dit in die bloed van die geslagte voël en in die vars water insteek; en hy moet die huis sewe maal besprinkel” (Lev 14:51).
  • “En so moet jy met hulle doen om hulle te reinig: Sprinkel op hulle water van ontsondiging; en hulle moet ’n skeermes oor hulle hele liggaam laat gaan en hulle klere was en hulleself reinig” (Núm 8:7)

Dit is dus nie die Roomse Kerk wat besprinkeling met water uitgedink het soos wat die Onderdompeldopers beweer nie, dit is die Here self wat dit alreeds in die Ou Testament as ‘n reinigingshandeling ingestel het en wat dit as die metode beveel het waar een persoon ‘n ander reinig.

‘n Kombinasie van was, bad en besprinkel

“En elkeen wat in die oop veld aan iemand raak wat deur die swaard verslaan is, of aan ’n dooie of aan ’n mens se doodsbeen of aan ’n graf, sal sewe dae lank onrein wees.  Vir die onreine moet hulle dan van die as neem van die sondoffer wat verbrand is, en daar vars water in ’n pot op gooi; ’n rein man moet hisop neem en dit in die water insteek en op die tent sprinkel en op al die goed en op die persone wat daar gewees het; ook op hom wat aan ’n doodsbeen of aan een wat verslaan is, of aan ’n dooie of aan ’n graf geraak het.  En die reine moet die onreine op die derde en op die sewende dag besprinkel en hom op die sewende dag ontsondig.  Dan moet hy sy klere was en hom in die water bad, en in die aand sal hy rein wees.  Maar as iemand onrein word en hom nie ontsondig nie, dan moet dié siel uitgeroei word uit die vergadering, want hy het die heiligdom van die HERE verontreinig: reinigingswater is op hom nie uitgegooi nie, hy is onrein.  En dit moet vir hulle ’n ewige insetting wees.  En die een wat die reinigingswater sprinkel, moet sy klere was; en die een wat aan die reinigingswater raak, sal tot die aand toe onrein wees “(Núm 19:16-21).

Let op hoe selfs waar van aldrie handelinge, was, bad en besprinkeling, gekombineer is, die reël konsekwent gebly het dat mens jouself bad en jou eie klere was en dat ‘n ander persoon jou besprinkel.

Ook in die NT is dit die gelowiges self wat hulle klere was in die bloed van die Lam (Op 7:14; 22:14[3]).

Daar is geen sprake êrens in die Bybel van ‘n doop waar die bedienaar iemand anders van kop tot tone was en ook sommer sy klere daarby ingesluit soos wat die Onderdompeldopers doen nie.

Johannes se doop moes ‘n kombinasie gewees het

Ons het gesien dat waar van was en bad sprake is, dit konsekwent selfdoen was.  Waar iemand anders ‘n reinigingshandeling uitvoer om die onreine te reinig moes dit konsekwent deur middel van besprinkeling gedoen word.  En Jesus het slegs sy dissipels se voete gewas.

Omdat die mense afgegaan het in die water, maar nie hulleself gebad het nie, en Johannes, ‘n bedienaar, hulle gedoop het, kan ons net een logiese gevolgtrekking in terme van die wet van Moses maak, nl dat Johannes-se-bekeringsdoop ‘n kombinasie van die Ou Testamentiese reinigingshandelinge was.  Die mense het hulleself simbolies gewas deur in die water in te gaan en Johannes het hulle gereinig deur water op hulle te gooi/sprinkel.

[1] Ook in Lev 11:25, 28, 40; 13:6, 34, 47; Núm 8:7; 19:10, 21

[2] Lev 15:13, 16, 18, 21, 22, 27; 16:4, 24, 28;  17:15-16; 22:6; Núm 19:7-8; 19:10; Deut 23:11

[3] Lees 1983 vertaling.  Die 1953 vertaling is op ‘n verkeerde lesing van die oorspronklike gebasseer.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y