Inleiding

                Die doop is waarskynlik die één leerstelling in die geskiedenis van die kerk wat tot meer verdeling en kerkskeuring gelei het as enige ander item op die christelike geloofsagenda.   Niks maak meer emosie los as die strydvrae rondom die doop nie, behalwe die vrae rondom uitverkiesing en vrye wil.   Daar was stryd in die kerk onder andere oor die drie-eenheid, oor nagmaal, oor amspdraers, maar dit het een of twee keer gewoed, dalk enkele kere weer opgevlam, maar andersins het gelowiges hulle berus.   Maar die stryd oor die doop en die uitverkiesing kom nie tot rus nie; dit duur onverpoosd voort, dryf gelowiges uitmekaar en hou hulle uitmekaar.

                Dat die doop nie ‘n middelmatige saak is nie, maar ‘n beginselsaak, al probeer baie “vredemakers” hoe hard om dit as onbelangrik voor te stel, verg geen diepsinnige teologiese bewysvoering nie.  Die blote feit dat dit soveel emosie wakker maak en alreeds tot soveel skeuring gelei het, is in sigself bewys dat dit nie ‘n middelmatige saak is nie.  Albei leerstellings, doop en uitverkiesing, raak die hart van die verlossingsleer, naamlik die vraag oor God se aandeel teenoor die mens se aandeel in die verlossing.   Wat doen God en wat moet die mens doen?  Daarom kan dit nooit ‘n middelmatige saak wees nie.   Presies hoe belangrik en ernstig die saak van die doop is, sal wel duidelik word deur die loop van die bespreking.

                Hierdie studie fokus net op die doop, anders sal die studie te wyd word.

                Die doel van die studie is om die God se openbaring aan die woord te stel, nie mense se idees en geykte dogmas nie.  Hoewel skrywer hiervan met die tradisionele standpunt van die gereformeerde kerke oor die doop grootgeword het, beteken dit nie dat hy die formulering daarvan soos in die gereformeerde belydenisskrifte en doopsformuliere uitgedruk, klakkeloos onderskryf nie.  Waar die gereformeerde belydenisskrifte en/of formuliere na ons mening nie die toets van die Skrif kan deurstaan nie, sal ons dit sonder skroom uitwys.

                Die konflik rondom die doop draai om twee kwessies: 1) wie mag/moet gedoop word, en 2) hoe mag/moet iemand gedoop word?   Daar is groepe wat volwassenes en hulle kinders doop en groepe wat slegs volwassenes doop.  Daar is groepe wat die doop met besprinkeling bedien en groepe wat mense heeltemal onder die water dompel.

Wie hang watter doop aan?

                Roomse, Lutherse en Gereformeerde kerke (uitgesluit Gereformeerde Baptiste) leer dat alle mense wat in die verbond ingesluit is, hetsy deur persoonlike geloofsbelydenis of deur geboorte, gedoop moet word en dat die doop deur onderdompeling of besprekenkeling met water kan geskied.

                Gereformeerde kerke erken normaalweg die doop van ander kerke mits dit aan drie vereistes voldoen, nl dat dit in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees bedien is, met water en deur ‘n bevoegde ampsdraer van die bepaalde denominasie.

                Ortodokse kerke doop wel kinders, maar deur ‘n vorm van onderdompeling, sommige deur volledige onderdompeling en ander deur vinnig die kop en die voete om die beurt in water te dompel.

                Daarteenoor staan ‘n wye verskeidenheid groepe wat slegs volwassenes doop na belydenis van die geloof en daarop aandring dat dit slegs deur onderdompeling móét geskied.   Hulle verwerp gewoonlik die kinderdoop  en besprinkeling as Roomse dwalings en onskriftuurlik.  Die oorgrote meerderheid christelike denominasies verkondig dié vorm van doop.  Omdat hulle die kinderdoop as illegitiem beskou, doop hulle gewoonlik mense wat as kinders gedoop is en by hulle aansluit, weer ‘n keer.   Vandaar die naam “wederdopers”.   Baie van hierdie kerke het ‘n sg inseëning vir die babas van gelowige ouers.

                Hoewel daar uitsonderings is soos die Ortodokse kerke wat ‘n vorm van onderdompeling vir kinders gebruik, gaan kinderdoop en besprinkeling gewoonlik hand-aan-hand en netso die verpligte volwasse-doop en verpligte onderdompeling.

Terminologie:

Tensy dit uitdruklik ander aangedui word beteken:

“Verbondsdopers” diegene wat sowel volwassenes as hulle verbondskinders doop;

“Geloofsdopers” diegene wat slegs volwassenes na belydenis van geloof doop;

“Kinderdoop” die doop van klein kindertjies onder die ouderdom van twaalf-dertien jaar;

“Grootdoop” beteken “die doop van volwassenes na geloofsbelydenis”

“Sprinkeldopers” diegene wat dmv besprinkeling op die voorkop doop;

“Onderdompeldopers” diegene wat dmv onderdompeling doop;

“Johannes-se-bekeringsdoop” die doop van Johannes die Doper;

“Die doop-as-sakrament” die doop wat Jesus na sy opstanding in Mt 28:19 beveel het.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13-5-2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s