Wat leer die Skrif werklik oor die doop?

Die sentrale boodskap van die bybel

Die sentrale boodskap van die Bybel is dat dieselfde God wat hemel en aarde met alles wat daar in is, gemaak het (Gn 1:1; Ex 20:11) ook die Een is wat sý kinders en die ganse skepping verlos en herskep.  Terselfdertyd straf Hy die duiwels en goddelose mense deur hulle oor te gee aan die val verderf waarin hulle hulself gestort het.

Die Bybelse verhaal begin met die skepping van alles (Gn 1) en die sondeval van die mens (Gn 3) waardeur die kwaad tot alle dinge deurgedring het (Rom 5:12; 8:20-21), en dit eindig met die oordeel oor alle dinge (Op 19 en 20) en die herskepping van hemel en aarde (Openbaring 21:1).

Sentraal in hierdie verhaal is die menswording van God se Seun, ons Here Jesus Christus, sy lyde, sterwe, opstanding en hemelvaart.   Soos ons reeds gesien het is Jesus se opstanding die groot spieëlpunt in die geskiedenis, die groot omkering, (Kyk “Jesus se opstanding is die groot spieëlpunt in die geskiedenis.”).

Die geskiedenis word gekenmerk deur verval

In die fisika is die wet van entropie bekend.  Die wet van entropie sê dat alles voortdurend van orde na wanorde verval.  Dit is natuurlik ook waar van ons biologiese lewe; daarom word ons oud en gaan ons dood.  Bioloë sê dat ons DNA ook van geslag tot geslag verval en dat dit noodwendig uiteindelik tot die uitwissing van alle lewe moet lei.

Dit is ook die droewe prentjie wat die Bybel teken van die mens se geskiedenis.

Skaars het Adam en Eva in sonde geval of Kain slaan sy broer Abel dood, Henog dig ‘n wraaklied waarin hy belowe om homself sewentig maal sewe keer te wreek.  Saam met die mense wat vermeerder, vermeerder hulle sondige en misdadige geaardheid en dryf die Here om mens en dier in die sondvloed uit te wis.

Die Here begin van vooraf met Noag, die enigste wat Hy regverdig bevind het en wat gelowig gehoorsaam het toe Hy hom aansê om ‘n ark te bou.  Na die vloed sluit Hy ‘n heerlike verbond met Noag en sy nageslag, met alle vlees.   Maar skaars het die waters van die vloed weggedroog of Noag word dronk, lê nakend in sy tent, sy seun Gam pleeg een of ander homoseksuele oortreding teenoor sy pa.  Gam se kleinseun, die Kusiet, bou Ninivé en Babel (Gn 10:9-11).  Die Here jaag hulle uitmekaar deur hulle taal te verwar.

En Hy begin van voor af met Abraham, die vriend van God en vader van die gelowiges.  Maar Abraham en Sara sondig self met leuens oor wie Sara werklik is, probeer deur middel van Hagar God se beloftes op menslike wyse waar maak.  Hulle kleinseun Jakob bedrieg sy ou vader, steel sy broer se seën.  Hy moet vlug na Padam-Aram, ‘n spieëlbeeld van Israel se ballingskap eeue later.  Sy seuns verkoop hulle broer as slaaf na Egipteland en laat Jakob en sy hele nageslag in slawerny beland, ‘n spieëlbeeld van die Jode wat na die val van Jerusalem na Egipte sou trek en Jeremia saamsleep.

Weer gryp die Here in en lei Israel op wonderbaarlike wyse uit Egipte uit.  Hy sluit met hulle ‘n heerlike verbond by Sinai, gee hulle sy wet, gee vir hulle brood uit die hemel, water uit die rots, beskerm hulle teen hulle vyande.  Maar dit is ‘n murmurerende volk wat knaend wil terugdraai na Egipte, afgode aanbid, hoereer.  Deur hulle eie toedoen swerf hulle vir veertig jaar in die woestyn en slegs hulle kinders trek die beloofde land binne.

In die beloofde land gaan dit nie beter nie, inteendeel.  Na ‘n aanvanklike hoogtepunt met die verowering van die land onder Josua, verval dit altyd verder na Josua in die Rigtertydperk.  As hulle in die moeilikheid is, draai hulle na die Here, maar sodra daar uitkoms is, dan gaan hulle maar net weer terug op hulle slegte pad en dit word al slegter.   Uiteindelik vra hulle vir ‘n koning waardeur hulle die Here as Koning verwerp.  Die Here gee vir hulle wat hulle wil hê, maar toon vir hulle met koning Saul presies hoe verkeerd hulle is.

Dan maak die Here weer ‘n nuwe begin met Dawid, die man na God’s hart.  Maar na Dawid onder Salomo verval dit net weer.  Salomo begin goed en bou selfs die tempel, maar sy baie vroue verlei hom tot afgodery.  Deur sy toedoen skeur die ryk in twee.  Die Tienstammeryk kies Jerobéam wat goue kalwers by Dan en Bet-el oprig, afgodsbeelde in die huis van God, antichristelike godsdiens.  Sy opvolgers volg nie net in sy voetspore nie, maar dien ook die Baäls en Astartes (1 Kon 3:3, 22:44; 2 Kon 12:3, 14:4, 15:4, 15:35).  Dit gaan van kwaad tot erger.  Nie eens ‘n Elia kan hulle laat omdraai nie.  En uiteindelik laat die Here hulle in ballingsakp na Assirië wegvoer.

Die nageslag van Dawid en die koninkryk van Juda vaar nie veel beter nie.  Hulle volhard ook in Salomo se sondes, verswaer hulle met die huis van Agab, lewer die goddelose Atalia en Mannase op en gaan uiteindelik ook in ballingskap na Babel.

Die Here maak weer ‘n nuwe begin toe Hy hulle uit ballingskap terugbring.  In Babel het hulle die afgodsdiens afgeskud, maar tussen Ou Testament en Nuwe Testament ontwikkel die Fariseërs se uitwendige godsdiens van gebod op gebod en reël op reël – skynheiligheid en oëverblindery!  Hulle maak asof hulle die Here dien, maar eintlik is hulle harte baie vér van Hom af.  Wanneer die Here verskyn noem Hy en Johannes, sy voorloper, hulle “slange” en “addergeslag” met “die duiwel as vader”.

Wanneer Johannes die Doper en Jesus gebore word, is nie net die Jode nie, die hele wêreld is ryp vir God se oordeel.  Die sonde het tot sy volle wasdom ontwikkel.  Die Romeinse Ryk was op die toppunt van sy mag, die antichristelike keiserryk in die proses om gebore te word.

Maar God begin nogmaals van nuuts af deur sy eie Seun in die wêreld in te stuur.  In plaas daarvan om dadelik sy oordeel oor die wêreld te bring, laat Hy die oordeel oor sy Seun kom om die wêreld te red – om ‘n nuwe wêreld moontlik te maak!

Die Here stuur Johannes die Doper voor Hom uit om ‘n omkering te bring, sodat Hy met sy koms genade kon bring in plaas van oordeel – sodat Hy nie hoef te kom om die wêreld alreeds toe te oordeel nie, maar om vryspraak te bewerkstellig vir wie in hom glo.  Johannes moes die omkering begin wat in Jesus die volle werklikheid sou word.

Na die Here se hemelvaart en die hoogtepunt van Pinkster gaan dit net weer afdraend.  Met die Reformasie is daar ‘n tydelike en gedeeltelike herstel, maar daarna net weer verval.

In die heel laaste fase laat God die satan vry (Op 20:7) om sy duiwelswerk wat hy in die tuin van Eden (Gn 3) en by Babel (Gn 11) begin het te voltooi en die wêreld ryp te maak vir die finale oordeel voor die finale volkome herstel.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s