Duisternis en lig, see en droë aarde

Ons het hierbo gesê: “Die verhaal van die Bybel begin met die skepping van alles (Gn 1) en die sondeval van die mens (Gn 3) waardeur die kwaad tot alle dinge deurgedring het, en dit eindig met die herskepping van hemel en aarde (Openbaring 21:1).”

Om die doop te verstaan is dit belangrik om die ontwikkeling van duisternis na lig, van water na droë aarde te verstaan en in gedagte te hou.  Die Bybel begin met ‘n aarde wat toe onder water is en in duisternis gehul (Gn 1:2) en eindig met ‘n droë aarde sonder see (Op 21:1) en sonder duisternis (Op 21:23 en 25).

Die skepping van lig en die skeiding van land en see sodat die droë grond sigbaar geword het, het lewe moontlik gemaak.  Toe daar lig is en daar is grond, was die noodsaaklike bestandele vir lewe op land daar.  Toe het God beveel dat die aarde plante voortbring wat saad gee (1:11), voedsel vir diere en mense wat ook op die droë grond leef (Gn 1:24-27).  Netso aan die einde van die geskiedenis; wanneer die see nie meer daar is nie en die ewige lig, God, by die mens is, dan breek die ewige lewe in sy volheid op aarde aan.

Die skepping van lig en die skeiding van lig en duisternis (Gn 1:3-5) sowel as die skeiding van water en land om die “droë grond” te laat sigbaar word (Gn 1:9-10) is ‘n afbeelding van die geskiedenis van die hele aarde, van skepping (Gn 1:2) tot herskepping (Op 21:1), van aarde onder water in duisternis tot aarde sonder see in ewige lig.  Die geskiedenis loop van baie water na min water, van duisternis na lig.

Die duisternis wat van die lig geskei is en die versameling van water loop in die Skrif ‘n parallele pad van entropie – verval van goed na sleg, soos wat ons hierbo die geskiedenis geteken het.

Dit het verreikende implikasies vir die verstaan van die doop soos ons later sal sien.

Duisternis simboliseer meesal die helse magte en god se straf; lig simboliseer verlossing en bevryding.

Genesis 1:3-4 sê dat God gesê het “Laat daar lig wees” en dat God gesien het dat die lig goed was.  Dan sê Genesis dat God skeiding gemaak het tussen die lig en die duisternis en in Gn 1:31 by implikasie dat die skeiding tussen lig en duisternis goed was.  Dit is opvallend dat die duisternis nêrens goed genoem word nie.

Al is daar enkele tekste in die Ou Testament wat sê dat God die duisternis as beskutting gebruik, is die oorweldigende boodskap van die Skrif dat die duisternis simbool is van die dood, van die kwaad en van God se straf op die sonde.  Om aan die duisternis oorgegee te word, is om aan die duiwel en sy magte en ewige dood oorgegee te word.

Byvoorbeeld:

  • “VERDER het die HERE vir Moses gesê: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal duisternis oor Egipteland kom, sodat ’n mens die duisternis kan gryp. Toe Moses sy hand uitsteek na die hemel, kom daar ’n dik duisternis in die hele Egipteland, drie dae lank” (Ex 10:21-22)
  • “En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe; en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê: Eli, Elia, lama sabagtáni?  Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mt 27:45‑46)
  • “En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar” (Judas 1:6).
  • “En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande” (Mt 25:30).

Soos wat God lewe gemaak het aan die begin deur lig te skep (Gn 1) red en verlos Hy sy gelowiges deur hulle uit die duisternis in die lig te bring.  In die Nuwe Jersualem is daar ewige Lig omdat God self die lig is.

Ons haal slegs enkele voorbeelde aan.

  • “Die volk wat in duisternis wandel, het ’n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ’n lig geskyn” (Jes 9:1)
  • “Ek het as ’n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie” (Jh 12:46).
  • “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (2 Kor 4:6).
  • “En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.  En bedags — want nag sal daar nie meer wees nie — sal sy poorte nooit gesluit word nie” (Op 21: 23-25).[1]

Die versameling van water ontwikkel in die skrif van goed na sleg, van orde na wanorde

Die “wêredvloed” van Genesis 1:2 word in een asem met die duisternis genoem as ‘n vyandige mag.  Die skeiding van water en droë grond is nie net skeppend nie, maar herskeppend.  Die “droë grond” verskaf die leefruimte vir plant, dier en mens.

Anders as duisternis waarvoor die Skrif geen goeie woord het nie, word die “versameling van water” wat God “see” genoem het, as goed beskryf (Gn 1:10).  Soos die droë grond wat God “aarde” genoem het, die leefplek aan plante (Gn 1:12), diere en mense gegee het (Gn 1:24-27), het die see die leefplek aan die visse en groot seediere verskaf (Gn 1:20-21).  Hulle is netsoos die diere en mense geseën om te vermeerder (Gn 1:22).

Die woord wat in Genesis 1:10 met “versameling” (van waters) vertaal is, is die Hebreeuse woord “mikveh” wat die Jode gebruik vir die baddens waarin hulle hulleself onderdompel.  Die woord word slegs enkele kere in die Bybel gebruik.

In Genesis 1:10 word die “versameling van waters” “goed” genoem, maar in Exodus 7:19 word dit direk aan God se straf verbind, die eerste plaag oor Egipteland, water wat in bloed verander.  “Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê vir Aäron: Neem jou staf en steek jou hand uit oor die waters van die Egiptenaars, oor hulle strome, hulle kanale, hulle waterkuile en oor al hulle versamelplekke (“mikveh”) van water, sodat dit bloed word: daar sal bloed in die hele Egipteland wees, ook in hout — en in klipbakke.

In Levitikus 11:36 is die “versameling van water” in ‘n put of fontein rein al is daar die aas van ‘n onrein dier in: “Maar ’n fontein of put, ’n versamelplek van water, sal rein wees; maar hy wat aan die aas daarin raak, sal onrein wees” (Lev 11:36).[2]  Dit is waarskynlik oor hierdie uitspraak wat Johannes mense in riviere (Jh 1:28) en in die fontein (Jh 3:23) gedoop het.  Die Jode bepaal ook dat die water in hulle reinigingsbaddens (“mikveh”) van ‘n fontein of dergelike natuurlike skoon waterbron moet kom.[3]

Maar die “versameling van water”, “see”, word in die Bybel hoe langer hoe meer met die magte van die duisternis en die straf van God verbind.

  • Die toenmalige wêreld wat uit die water ontstaan het, is deur water oorstroom en het deur water vergaan (2 Petr 3:5-6). Die ondergang van die aarde in water is ‘n spieëlbeeld van die ontstaan van die aarde.
  • God het die Farao en sy manne in die Skelfsee verdrink (Ex 14:23-28).
  • “Want so sê die Here HERE: As Ek jou ’n verwoeste stad maak, soos die stede wat nie bewoon is nie; as Ek die watervloed oor jou laat opkom en die groot waters jou oordek; dan sal Ek jou laat neerdaal saam met die wat in die kuil neerdaal, na die mense van die voortyd; en Ek sal jou laat woon in die onderste plekke van die aarde, in ewige woestenye, saam met die wat in die kuil neergedaal het, sodat jy nie bewoon word nie; en Ek sal heerlikheid gee in die land van die lewendes” (Eseg 26:19-20).
  • In Openbaring 13 word die antichris as die dier uit die see geteken.

[1] Volledige lys van alle tekste waarin die woord duisternis voorkom: Gn 1:2, 4, 5, 18, 15:12; Ex 10:21, 22, 14:20; Deut 4:11, 5:23; Jos 24:7; 1 Sam 2:9, 22:12, 29; Job 3:4, 5, 5:14, 10:21: 12:22, 25, 15:22, 23, 30, 17:12, 13, 18:6, 18, 19:8, 20:26, 22:11, 23:17, 24:16, 26:10, 28:3, 29:3, 34:22, 37:19, 38:2, 19; Ps 18:12, 29, 82:5, 7, 88:7, 12, ,13, ,19, 104:20, 105:28, 107:10, 14, 112:4, 139:11, 12, 143:3; Spr 2:13, 4:19; Pred 2:13, 14, 5:16, 6:4, 11:8; Jes 5:20, 30, 8:22, 9:1, 29:15, 18, 42:7, 16, 45:7, 47:5, 49:9, 50:10, 58:10, 59:9, 60:2; Jer 2:31; Klaag 3:2; Eseg 8:12, 32:8; Joël 2:2, 31; Amos 4:13, 5:8, 18, 20; MIga 7:8; Nah 1:8; Sef 1:15; Mt 4:16, 8:12, 22:13, 25:30, 27:45; Mk 15:33; Lk 1:79, 11:35, 22:53, 23:44; Jh 1:5, 3:19, 8:12, 12:35, 46; Hand 2:20, 13:11, 26:18; Rom 2:19 13:12; 1 Kor 4:5; 2 Kor 4:6, 6:14; Ef 5:8, 11, 6:12; 1 Thess 5:4, 5; Heb 12:18; 1 Pet 2:9; 2 Pet 2:4, 17; 1 Jh 1:5, 6, 2:8 , 9, 11; Jud 1:6, 13.

[2] Die woord “mikveh” word ook in 1 Kronieke 29:15 gebruik waar dit met “verwagting” vertaal is.  In Esra 10:2, Jeremia 14:8, 17:13 en 50:7 word dit met “hoop” vertaal.  In al hierdie plekke verwys die woord na God wat die mens se hoop en verwagting is.

[3] “Most forms of impurity can be nullified through immersion in any natural collection of water. However, some impurities, such as a zav, require “living water”,[5] such as springs or groundwater wells. Living water has the further advantage of being able to purify even while flowing, as opposed to rainwater which must be stationary in order to purify. The mikveh is designed to simplify this requirement, by providing a bathing facility that remains in ritual contact with a natural source of water.”  https://en.wikipedia.org/wiki/Mikveh

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s