Hoe het Johannes dan wel gedoop?

Johannes het waarskynlik die mense met hulle voete in die water laat staan het en water op hulle koppe en hande gegooi.

Die aand van die voetwassing toe die Here vir Petrus sê as Hy hom nie was nie het hy geen deel aan Jesus nie (Jh 13:8), het Petrus, geantwoord: “Here, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof.” (Jh 13:9).  Let wel dat Petrus nie vra dat Jesus dan sy hele liggaam moet was nie , maar hy vra net dat Jesus dan ook sy hande en sy hoof moet was.

Al het Jesus gesê “As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie” (Jh 13:8), vra Petrus nie dat Jesus dan sy hele liggaam moet was nie, want dit sou ‘n onbehoorlike indringing in die privaatheid van die liggaam wees – in stryd met die wet van Moses (Ex 20:26).

Maar netso is Petrus se versoek om dan ook die hande en die hoof te was nie uit die lug gegryp nie.  Hy sou geweet het dat voete, hande en hoof, dws al die eindpunte simbolies die hele liggaam insluit (Ex 29:20); dit is die dele wat nie met klere bedek is nie.

Klere is ook as deel van die reinigingshandelinge gewas omdat dit as bedekking vir en teen die sonde/elemente gegee is (Ex 19:10[1]).  Maar hier was klere nie ter sprake nie, behalwe vir Jesus wat sy eie klere uitgetrek en ‘n doek om hom vasgemaak het – soos ‘n slaaf!

Petrus het dit as ‘n reinigingshandeling voor die offermaaltyd, die pasga, herken en het daarom aangedring dat dit dan gedoen word op ‘n wyse wat ooreenstem met die bekende reinigingshandelinge – nie net die voete nie, maar ook die hande en die hoof!

Sy versoek het verband gehou met hoe die priesters gereinig is (Ex 29:20) en hoe Johannes die mense gedoop het.  Petrus was immers ‘n dissipel van Johannes voordat hy ‘n dissipel van Jesus geword het.  Hy het geweet hoe Johannes mense gedoop het (Jh 1:35‑43).  Jesus se dissipels het self ook mense gedoop terwyl Johannes nog besig was om te doop en hulle sou waarskynlik ook gedoop het soos wat Johannes gedoop het (Jh 3:26 en 4:1-2), voete, hande en hoof.

Want dit stem ooreen met die wette van Moses soos ons hierna aantoon.

Die reinigingswette en offerwette van Moses bevestig dat Johannes nie mense sou onderdompel nie maar eerder water op hulle sou gooi

Die reinheidswette in Exodus, Levitikus en Numeri beveel verskeie kere dat klere en (heilige) voorwerpe gewas moes word.   Saam met die klere wat gewas moes word, moes die persoon ook dikwels ‘n bad neem.   In ander gevalle is die persoon met water besprinkel.  Soms was daar ‘n kombinasie van klere was, bad en die persoon met water sprinkel.

Die belangrike punt is dat die wette bepaal het dat elke persoon self sy/haar eie klere was, hom-/haarself bad soos wat die Jode steeds in die Mikveh’s doen waar privaatheid streng gehandhaaf word.

Maar wanneer iemand anders jou reinig, sê die wet konsekwent dat hy die onreine moet sprinkel.

Die onderliggende beginsel is duidelik, naamlik die beskerming van die privaatheid van elke persoon se liggaam.  Dit is goed en reg dat elkeen sy eie liggaam was, maar ‘n bedienaar van die Here se genade mag nie met sy oë en nog minder sy hande die privaatheid van ‘n ander dissipel se liggaam binnedring nie.

Was en bad moes mens self doen

Ons haal slegs enkele tekste aan waarin “bad” en “was” beveel word sonder die verband omdat ons bloot wil aantoon dat dit selfdoen was; die volledige lys van al die tekste wat konsekwent dieselfde punt tuisbring verskaf ons in voetnota[2].  Enige leser is vry om die tekste self na te gaan en in volle verband te lees.  Die verband maak geen verskil aan die punt wat ons wil tuisbring nie.

  • “En elkeen wat aan sy bed raak, moet sy klere was en ’n bad neem …” (Lev 15:5).
  • “…en die een wat gaan sit op die voorwerp waarop hy gesit het wat die vloeiing het, moet sy klere was en ’n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein…” (Lev 15:6).
  • ”…en die een wat aan die liggaam raak van hom wat die vloeiing het, moet sy klere was en ’n bad neem ….” (Lev 15:7).
  • “En as hy wat die vloeiing het, op ’n reine spuug, moet dié een sy klere was en ’n bad neem…” (Lev 15:8).
  • “En die een wat dit dra, moet sy klere was en ’n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein” (Lev 15:10b).
  • “En elkeen aan wie hy raak wat die vloeiing het, sonder dat hy eers sy hande in die water afgespoel het, dié een moet sy klere was en ’n bad neem…” (Lev 15:11).

‘n Bedienaar wat iemand anders reinig moes die persoon besprinkel

  • “Dan moet jy van die bloed wat aan die altaar is, neem en van die salfolie en dit sprinkel op Aäron en op sy klere sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns saam met hom, dat hy heilig kan wees en sy klere sowel as sy seuns en die klere van sy seuns saam met hom” (Ex 29:21).
  • “Moses het ook van die salfolie en van die bloed wat aan die altaar was, geneem en dit op Aäron, op sy klere, sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns gesprinkel. So het hy dan Aäron, sy klere, sowel as sy seuns en die klere van sy seuns geheilig” (Lev 8:30).
  • “En hy moet op hom wat van die melaatsheid gereinig moet word, sewe maal sprinkel en hom reinig, en die lewendige voël moet hy oor die oop veld laat wegvlieg” (Lev 14:7)
  • “Dan moet hy die sederhout en die hisop en die skarlakendraad en die lewendige voël neem en dit in die bloed van die geslagte voël en in die vars water insteek; en hy moet die huis sewe maal besprinkel” (Lev 14:51).
  • “En so moet jy met hulle doen om hulle te reinig: Sprinkel op hulle water van ontsondiging; en hulle moet ’n skeermes oor hulle hele liggaam laat gaan en hulle klere was en hulleself reinig” (Núm 8:7)

Dit is dus nie die Roomse Kerk wat besprinkeling met water uitgedink het soos wat die Onderdompeldopers beweer nie, dit is die Here self wat dit alreeds in die Ou Testament as ‘n reinigingshandeling ingestel het en wat dit as die metode beveel het waar een persoon ‘n ander reinig.

‘n Kombinasie van was, bad en besprinkel

“En elkeen wat in die oop veld aan iemand raak wat deur die swaard verslaan is, of aan ’n dooie of aan ’n mens se doodsbeen of aan ’n graf, sal sewe dae lank onrein wees.  Vir die onreine moet hulle dan van die as neem van die sondoffer wat verbrand is, en daar vars water in ’n pot op gooi; ’n rein man moet hisop neem en dit in die water insteek en op die tent sprinkel en op al die goed en op die persone wat daar gewees het; ook op hom wat aan ’n doodsbeen of aan een wat verslaan is, of aan ’n dooie of aan ’n graf geraak het.  En die reine moet die onreine op die derde en op die sewende dag besprinkel en hom op die sewende dag ontsondig.  Dan moet hy sy klere was en hom in die water bad, en in die aand sal hy rein wees.  Maar as iemand onrein word en hom nie ontsondig nie, dan moet dié siel uitgeroei word uit die vergadering, want hy het die heiligdom van die HERE verontreinig: reinigingswater is op hom nie uitgegooi nie, hy is onrein.  En dit moet vir hulle ’n ewige insetting wees.  En die een wat die reinigingswater sprinkel, moet sy klere was; en die een wat aan die reinigingswater raak, sal tot die aand toe onrein wees “(Núm 19:16-21).

Let op hoe selfs waar van aldrie handelinge, was, bad en besprinkeling, gekombineer is, die reël konsekwent gebly het dat mens jouself bad en jou eie klere was en dat ‘n ander persoon jou besprinkel.

Ook in die NT is dit die gelowiges self wat hulle klere was in die bloed van die Lam (Op 7:14; 22:14[3]).

Daar is geen sprake êrens in die Bybel van ‘n doop waar die bedienaar iemand anders van kop tot tone was en ook sommer sy klere daarby ingesluit soos wat die Onderdompeldopers doen nie.

Johannes se doop moes ‘n kombinasie gewees het

Ons het gesien dat waar van was en bad sprake is, dit konsekwent selfdoen was.  Waar iemand anders ‘n reinigingshandeling uitvoer om die onreine te reinig moes dit konsekwent deur middel van besprinkeling gedoen word.  En Jesus het slegs sy dissipels se voete gewas.

Omdat die mense afgegaan het in die water, maar nie hulleself gebad het nie, en Johannes, ‘n bedienaar, hulle gedoop het, kan ons net een logiese gevolgtrekking in terme van die wet van Moses maak, nl dat Johannes-se-bekeringsdoop ‘n kombinasie van die Ou Testamentiese reinigingshandelinge was.  Die mense het hulleself simbolies gewas deur in die water in te gaan en Johannes het hulle gereinig deur water op hulle te gooi/sprinkel.

[1] Ook in Lev 11:25, 28, 40; 13:6, 34, 47; Núm 8:7; 19:10, 21

[2] Lev 15:13, 16, 18, 21, 22, 27; 16:4, 24, 28;  17:15-16; 22:6; Núm 19:7-8; 19:10; Deut 23:11

[3] Lees 1983 vertaling.  Die 1953 vertaling is op ‘n verkeerde lesing van die oorspronklike gebasseer.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s