Israel se uittog uit Egipte deur die Skelfsee.

“Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die HERE het deur ’n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en die waters is gekloof.  En die kinders van Israel het midde-in die see getrek op droë grond. En die waters was vir hulle ’n muur aan hul regter — en aan hul linkerkant” (Ex 14:15-22).

“WANT ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Kor 10:1-4).

Paulus gebruik ook die woord “dia” om te sê “deur die see heen”.  Exodus 14:22 sê dat Israel het midde-in die water op droë grond deur die see getrek terwyl die water soos mure weerskante van hulle was.   Hulle het dus deur ‘n droë kanaal in die water gestap.  Hulle was binne-in die see, maar het op droë grond gestap.  Hulle het Moses en die wolk gevolg in en is deur die see heen op droë grond.  Hulle is “in Moses, in die wolk en in die see” gedoop maar nie soos die Egiptenaars ondergedompel nie.  Soos met Noag en sy gesin, selfs nog meer, is dit egter ondenkbaar dat die seesproei nie oor hulle gewaai het en druppels op hulle gereën het nie, juis omdat ‘n sterk wind die see so oopgewaai het en hulle in die wolk was.  Hulle het deur die water heen op droë grond gegaan, voete en dalk hande onderkant die wateroppervlak, droog, maar waarskynlik tog besprinkel.

En die kinders en die vee is by dié doop ingesluit, soos hulle saam met Noag in die ark was.  Die kleinste ou babatjies, selfs die ongebore babas in die moederskoot, is saam gedoop in Moses in die wolk en in die see.

Moses in die mandjie uit die water getrek

Dat daar ooreenkoms tussen Noag se “ark” en Moses se “mandjie” is, kan gewone lesers wat net toegang tot vertalings het, ook sien.  Albei vaartuie is immers met pik bestryk

“En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.  Maak vir jou ’n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk” (Gén 6:13-14).

“Toe gee Farao aan sy hele volk bevel en sê: Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp, maar al die dogters kan julle laat lewe.   EN ’n man uit die huis van Levi het gegaan en ’n dogter van Levi geneem.  En die vrou het swanger geword en ’n seun gebaar. En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek.  Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom ’n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit” (Ex 1:22-2:3).

Wat egter nie in vertalings uitkom nie, is dat dieselfde Hebreeuse woord vir “ark” en vir “mandjie” gebruik word, nl “tebah”.  Die woord “tebah” word slegs in hierdie twee gevalle in die Bybel gebruik en koppel dus die “ark” en die “mandjie” direk aan mekaar.   Die Hebreeuse Bybel gebruik ‘n ander woord, “ha-aroon”, vir die verbondsark wat Moses in die woestyn gemaak het.[1]

Die oorsprong van die woord “tebah” en die presiese betekenis daarvan is onseker.  Wat wel duidelik is, is dat dit na ‘n vaartuig verwys wat van hout of papirus gemaak is, waarskynlik tipies langwerpig met geronde ente soos ‘n ovaalvormige mandjie.  En wat duidelik is is dat die skrywer van Exodus ‘n direkte verband tussen die vaartuig van Noag en die mandjie van Moses wou trek.

Moses in die mandjie in die Nylwater is ‘n afbeelding van Noag in die ark in die vloedwater.  Soos Noag en sy gesin in die ark gered is terwyl die ander mense rondom hom verdrink het, is Moses in die mandjie gered terwyl die ander seuntjies in die water gegooi is en verdrink het (Ex 1:22).  Moses wat in die mandjie uit die water getrek word soos sy naam sê, wys heen na die Moses wat die volk deur die Skelfsee uit Egipteland uitgelei het.  Moses in die mandjie is die spieëlbeeld van Israel se redding “deur die water heen” hulle doop in Moses en in die wolk en in die see (I Kor 10:1‑4).  Dit is Moses se persoonlike doop! – as baba! – en wys heen na Johannes die Doper wat in die moederskoot sou opspring (Lk 1:41 en 44) en uiteindelik na Jesus wat in doeke toegedraai in die krip lê (Lk 2:7 en 12), netsoos die seuntjies wat in die Nylrivier gedood is, heengewys het na die seuntjies wat in Betlehem en omgewing doodgemaak is (Mt 2:16-18)

[1] Die oorspronklike Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta, gebruik weer dieselfde woord, “kibootos”, vir Noag se ark en die verbondsark en ‘n ander woord, “thibin”, vir Moses se mandjie.  Die Latynse Vertaling het die Griekse gevolg en dit met “arca” wat “kis” beteken vertaal; ons woord “ark” kom van die Latynse “arca”.  Die Nuwe Testamentiese skrywers het ook die Septuaginta se voorbeeld gevolg en verwys na Noag se ark en die verbontsark as “kibootos”.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s