Israel se intog deur die Jordaan

Israel se intog deur die Jordaanrivier (Josua 3:14-4:18) is ‘n spieëlbeeld van Israel se uittog uit Egipte deur die Skelfsee.   Israel het ooswaarts deur die Skelfsee oor die foutlyn Arabië binnegetrek na Horeb; hulle het weswaarts deur die Jordaan oor dieselfde foutlyn Kanaän binnegetrek.  By die Skelfsee was die water soos twee mure weerskante (Ex 14:22); by die Jordaan het die water soos ‘n muur een kant opgerys terwyl die ander wegloop en verdwyn in die rigting van die Soutsee (Jos 3:16).  By die Skelfsee het Moses met sy staf op die water geslaan en dit is deur ‘n wind gekloof wat die hele nag gewaai het (Ex 14:16 en 21-22); by die Jordaan het die priesters wat die ark dra voor geloop en toe hulle voete in die water is, het die water aan die bo-kant begin opdam terwyl die ander water wegloop (3:15-16).

Die volk wat uit Egipte getrek het, almal wat ouer as twintig jaar was, het in die woestyn omgekom (Num 14).  Die volk het deur hulle ongeloof die verbond wat God by Horeb met hulle gesluit het (Ex 24:8), verbreek en moes daarom veertig jaar in die woestyn swerf.  Die seuns wat in dié veertig jaar gebore is, is nie besny nie omdat die verbond verbreek was.  Josua het hulle besny nadat hulle deur die Jordaan getrek het (Josua 5:2-6).

Die deurtog deur die Jordaan was die reinigingsdoop voordat hulle besny kon word.  Op die voorpunt was die ark met die twee kliptafels van die wet/verbond daarbinne.   Die ark in die allerheiligste van die tabernakel/tempel het die hart van die mens in die borskas gesimboliseer, die liggaamstempel.  Die ark op die voorpunt wat deur die Jordaan se water gaan, simboliseer die doop van die hart! – die wedergeboorte!  Die priesters met die ark op hulle skouers wat die volk in die Jordaan doop, is ‘n heenwysing na die profeet Johannes uit die priestergeslag van Zacharias[1] wat die volk in die Jordaan sou doop.

Van onderdompeling is geen sprake nie.  Dis net die priesters – die bedienaars van die offers! – wat nat word! – en ook net hulle voete!   Soos by die Skelfsee het die volk op droë grond deur die Jordaan gestap, wel met die voete en lywe onderkant die wateroppervlak, maar droog.  En soos by die Skelfsee is dit ondenkbaar dat daar geen watersproei op hulle sou gereën het van die water wat soos ‘n damwal bokant hulle koppe oprys nie.

Jakob se intog in Kanaän

Israel se uittog uit Egipte en intog in Kanaän was ook ‘n afbeelding van Jakob se vlug na Paddam-Aram en sy terugkeer na Kanaän.  Met sy terugkeer het hy, toe hy hom in gebed voor God verootmoedig uit vrees vir sy broer Esau, gesê “…ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword” (Gn 32:10).  Soos die volk twee laers geword het voor hulle intog deur die Jordaan (Numeri 32, Josua 1:12-18).

Die nag toe Jakob sy gesin deur die Jabok rivier laat trek het – Dit was hulle doop voordat hulle Kanaän kon binnegaan – het die HERE fisies met hom geworstel.  Jakob het die verbond wat deur sy besnydenis beseël was, verbreek toe hy sy pa bedrieg en sy broer se seën gesteel het (Gn 27).  Die verbond moes herstel word voordat hy die beloofde land kon binnegaan.  Daardie nag het die HERE hom gedwing om te erken dat hy “Jakob”, dws bedrieër, is.  Die HERE het sy heupbeen uit lit geslaan wat hom mank gelaat het.  Hy is naby aan die liggaamsdeel waar hy besny is, geslaan; sy mankheid sou hom vir altyd daaraan herinner – soos die nuwe naam wat hy ontvang, Israel.  Daardie nag het die groot kentering in sy lewe gekom.  Hy het daar aangekom as die fisies-gesonde maar geestelik-siek Jakob en daar weggehink as fisies-gestremde maar geestelike-nuwe Israel.  ‘n Mens kan dit Jakob se wedergeboorte noem.  Die belangrike punt is dat hy en sy hele gesin – twee laers! – in die Jabbok gedoop is.  Hulle voete het nat geword toe hulle deur die water loop, maar hulle is nie ondergedompel nie!

[1] Die naam Zacharias is die Nederlandse en Afrikaanse transkripsie van die Griekse weergawe van die naam Zagaria, soos wat Judas die Grieks vir Juda is en Jesus vir Josua.  Die naam word in sowel die oorspronklike Hebreeus as Grieks en alle tale met ‘n Z gespel.  Dit is heetemal onduidelik en inkonsekwent waarom die Afrikaanse Bybelvertalers dit anders vertaal as ander name, byvoorbeeld Judas en Jesus.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s