Elia, die Ou Testamentiese Johannes die Doper

Ons het gesien dat Johannes die vervulling was van die belofte dat Elia sou kom (Kyk: “Johannes die Doper se taak as wegbereider…”).   Ons het daarop gewys dat Johannes in die gees van Elia die volk tot bekering geroep het – terug na die wet van Moses.

Maar op die oog af lyk dit asof die twee se werk verder niks met mekaar te doen het nie.   Elia is vir baie dinge bekend, drie-en-half jaar se droogte (I Kon 17), vuur uit die hemel (1Kon 18; 2 Kon 1) stortreën (I Kon 18), die oordeel oor Agab (I Kon 21) en sy hemelvaart (2 Kon 2:1-12), maar hy is nie daarvoor bekend dat hy mense gedoop het soos Johannes nie?   Wat het Elia dan werklik met Johannes en sy doop in gemeen?

Baie meer as wat mense dink!

Soos Johannes was (Elia) in die woestyne tot op die dag van sy vertoning aan Israel” (Lk 1:80). Volgens I Kon 17:1 was “Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead”.  Dié woorde moet waarskynlik eerder as “Elia, die besoeker onder die inwoners in Gílead” vertaal word.  Hy was dus nie ‘n burger van Gílead nie, maar het daar aan die oorkant van die Jordaan vertoef voordat sy bediening begin het.   Soos Jakob/Israel het Elia en Johannes heen-en-weer oor die Jordaan getrek, dieselfde skeurvallei waarin die Skelfsee ook is.  Hulle heen-en-weer trekkery was ‘n afbeelding van Jakob/Israel se heen-en-weer trekkery waardeur die doop aangedui is.  Elia eindig sy bediening soos hy dit begin het met ‘n trek deur die Jordaan wat aan dié van Israel deur die Skelfsee herinner (2 Kon 2).

Met die droogte wat hy aangekondig het, het Elia die woestyntoestande oor Israel gebring wat die volk ervaar het nadat hulle deur die Skelfsee is.   Na drie-en-‘n half jaar se droogte het net kaal, dorre aarde oorgebly (I Kon 18:5-6).

Aanvanklik het Elia by die spruitjie Krit, ‘n sytak van die Jordaan, weggekruip.  Die kraaie het vir hom brood en vleis gebring het en hy het water uit die spruit gedrink (I Kon 17:4-6).  Die brood en vleis was ‘n afbeelding van die manna en die kwartels wat die volk in die woestyn geëet het (Ex 16:12-14) en die water uit die spruit die spieëlbeeld van die water uit die rots (Ex 17:6; Vgl I Kor 1:1-4).  Sy verblyf by die spruit was dus ‘n afbeelding van Israel se verblyf in die woestyn waar hulle die Sinai-verbond en die wet ontvang het, ‘n simboliese terugkeer na Sinai.

Dit was ook ‘n voorafbeelding van Johannes die Doper wat in die woestyne en by die spruite weerskante van die Jordaan sou woon en van sprinkane en wilde heuning sou leef.

Die kraaie wat vir hom gesorg het, was ‘n spieëlbeeld van die kraai wat Noag uit die ark gestuur het en wat net doelloos heen en weer gevlieg het (Gn 8:7‑8).   Die droogte self waarin alles besig was om van dors te sterf, die omgekeerde beeld van die sondvloed waarin alle lewende wesens in die water verdrink het.   Dit was dus ook ‘n spieëlbeeld van Noag se redding in die ark.

Toe die spruit opdroog het die Here Elia na ‘n weduwee in Sarfat in Sidon gestuur (I Kon 17:9-16).

Die meel en olie van die weduwee wat nie opgeraak het nie, is ‘n afbeelding van die manna in die woestyn na die deurtog deur die Skelfsee (Ex 16), van die opbrengs van die land wat Israel geëet het na die deurtog (Jos 6:11-12) en van die brood wat die Here vermeerder het (Mt 14:14-21, 15:29-39 Mk 6:30-44, 8:1-10, Lk 9:10-17, Jh 6:1-14).  Dit was die voorbereiding vir die “doop by Karmel” soos die manna in die woestyn die water uit die rots voorafgegaan het en die vermeerdering van die brood Jesus se stap oor die see voorafgegaan het.

Na die drie-en-‘n half jaar se droogte het die Here Elia teruggestuur na Agab.  Elia het vir Agab gesê om die volk by die Karmelberg byeen te roep en al die profete van Baäl en Asjera saam te bring (I Kon 18:18-20).

Elia het die volk gevra om te kies wie God is, Baäl of die HERE, maar hulle het hom nie geantwoord nie.  Toe het hy voorgestel dat hulle toets wie God is.  Die Baäl-profete moes ‘n bul slag en ‘n offerande voorberei, maar geen vuur maak nie, en hy sou so ook so ‘n offerande gereedkry sonder om vuur te maak.  Elkeen moes tot sy God bid en die God wat met vuur antwoord, is God.   Die volk het ingestem (I Kon 18:21-24).

Soos te verwagte het die Baäl-profete se gebede onbeantwoord gebly en Elia het met hulle gespot (I Kon 18:25-29).

Uiteindelik het Elia se beurt gekom.  Hy het die altaar van die Here met twaalf klippe herstel, hout op die altaar gepak en die bul bo-op die hout.  Hy het ‘n sloot rondom die altaar gegrou.  Daarna het hy drie keer vier kanne water op die offerande gegooi, soveel water dat die sloot gevul is.  Toe hy bid het die HERE met vuur geantwoord wat nie net die offerande verteer het nie, maar ook die klippe en die water in die sloot.  “En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God!” (I Kon 18:30-39).

Ons het hier met ‘n afbeelding-spieëlbeelding te doen van die verbondsluiting by Sinai (Ex 24).  Voor die offerande en verbondsluiting by Sinai het Moses die volk hulle klere laat was en hulle geheilig (Ex 19:14); Elia het die volk tot bekering geroep en water oor die offerande gegiet.   By Sinai het die volk beloof hulle sal alles doen wat die Here sê; by Karmel het hulle net stilgebly toe Elia hulle vra om te kies wie God is.  Moses het by Sinai ‘n altaar vir die Here gebou en twaalf gedenkstene opgerig volgens die twaalf stamme (Ex 24:4); Elia het by Karmel die altaar van die Here herstel met twaalf klippe vir elke stam.  Moses het by Sinai brandoffers en dankoffers laat slag (Ex 24:5); Elia het by Karmel ‘n bul geslag!   Moses het by Sinai die helfte van die offerbloed teen die altaar uitgegooi (Ex 24:6) –  ‘n afbeelding van die bloed van Christus wat teen die kruis afgeloop het; Elia het by Sinai die offervleis bo-op die hout op die altaar geplaas, ‘n afbeelding van Christus wat aan die kruishout vasgespyker is, en water oor die offer uitgegiet.

Die water wat hy oor die offerande gegooi het, was natuurlik om die moontlikheid van gewone vuur te blus sodat daar geen twyfel oor sou wees dat dit die Here is wat met vuur uit die hemel antwoord nie.

Maar dit was meer as dit.  Dit was ‘n afbeelding van die offerandes wat gewas moes word voordat dit geoffer word(Lev 1:9 en 1:13).  Die wette van Moses het bepaal dat die binnegoed en pote gewas moet word, maar hier het Elia die hele offerande gewas.    Dit wys heen na Johannes wat Jesus sou doop.  Soos Elia die offerande by Karmel gewas het voordat God dit self met vuur verteer het, het Johannes die enige offerande, Jesus gewas voordat Hy Homself  op Golgota geoffer het.  Jesus het Homself laat was asof Hy “binnegoed en pote” is – afval!

Dis belangrik om te besef dat Elia die water op die offerande gegooi het wat afgeloop het tot in die sloot wat soos ‘n rivier daaromheen was.  Elia het nie die offerande in water gedompel nie.   Wat ons stelling bevestig dat Johannes nie mense/Jesus ondergedompel het nie, maar in die water laat staan en water oor hulle gegooi het.

Die getalle wat genoem word, is nie toevallig nie.  Vier kruike water is drie maal oor die offerande gegooi.  Vier maal drie is twaalf.   Dit is ‘n spieëlbeeld van die twaalf gedenkstene wat Moses opgerig het en die twaalf klippe waarmee Elia die altaar herstel het.

Die twaalf kruike water wat oor die twaalf gedenkstene vir elke stam uitgegooi is, is terselfdertyd ‘n afbeelding van die doop van die “hele volk” – Israel – deur Johannes in die Jordaan.  Dit is waarom die skrywer van Konings ons herinner aan Jakob se naamsverandering by die Jabbokrivier – aan Jakob se doop!

Mens kan die vier en drie ook anders bereken, nl as vier plus drie wat die antwoord sewe gee.  Sewe is die getal van die Heilige Gees (Op 1:4, 4:5, 5:6 en 10:4).  Die water wat oor die offerande uitgegiet word is dus ook simbool van die Heilige Gees wat uitgestort word.  Dit wys heen na die Heilige Gees wat in die gedaante van ‘n duif op Jesus neergedaal het nadat Hy gedoop is.  Die “vuur”, waarskynlik weerlig, wat uit die hemel geval en die offerande verteer het, is metafoor van die Sewe Geeste van God (Op 1:4), Sewe Fakkels (Op 4:5), Sewe Donderslae (Op 10:4).  Dis ‘n afbeelding van die helse vuur wat op ons Here Jesus op Golgota geval het toe Hy van God verlate was.  Dit is ‘n afbeelding van die vuurtonge wat op Pinksterdag op die dissipels gaan sit het om hulle met krag uit die hoogte toe te rus – die sigbare voorstelling van die Gees wat op hulle uitgestort is.

Die erkenning van die volk “Die HERE, Hy is God” die HERE, Hy is God”, is ‘n spieëlbeeld van die “…stem uit die hemele wat sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Mt 3:17) toe Jesus gedoop is.  Dit is ook die spieëlbeeld van Thomas se woorde “My Here en my God” (Jh 20:28) nadat Jesus met die kruis gedoop is, op sy dissipels geblaas het om hulle met die Heilige Gees te doop (Jh 20:22) en Thomas soos die Israeliete by Karmel gekonfronteer is met die bewyse dat Jesus waarlik Here is (Jh 20:24-27).  En dit is ‘n spieëlbeeld van die Israeliete wat op Pinksterdag gesê het “Wat moet ons doen, broeders?” (Hand 2:37).

Netso herinner Elia se gebed daarna op Karmel – sewe maal! – ons aan die Heilige Gees.  Die wolkie so groot soos ‘n man se hand wat sy dienaar uit die see sien opkom het nadat hy die sewende keer sy gesig tussen sy knieë gedruk het, is ‘n afbeelding van die Gees van God wat op die water gesweef het (Gn 1:2) en die wolk waarin die Here voor die volk uit Egipteland getrek het – waarin hulle gedoop is (I Kor 1):1-4).

Die heerlike stortreën wat dit gebring het, ‘n afbeelding van die bloed wat Moses met die verbondsluiting by Sinai oor die volk gegooi het (Ex 24:8) tydens die Fees van die Weke (of “Eerstelinge”; Ex 23:15-16), die afbeelding van die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag soos die Fees van die Weke in die Nuwe Testament genoem word.

Van onderdompeling is daar in die verhaal van die Ou Testamentiese Johannes die Doper geen sprake nie! – net van dorre aarde, woestyntoestande, brood en water uit die hemel soos wat die volk op die trekpad in die woestyn geken het.  Ons sien twaalf kruike water wat op die offerande gegooi word terwyl die altaar se fondamente (“voete”) simbolies in die water staan.  Ons hoor van stortreën uit die hemel wat die volk doop.   Maar daar is netmooi NIKS in die werk van Elia wat heenwys na Johannes die Doper wat enigiets met onderdompeling te doen het nie.

Wanneer Elia se tyd kom om na die hemel te vaar, keer hy terug na Gilgal waar Josua en Israel die land binnegekom het.  Hy gaan van Gilgal (Jos 4:19) na Bet-el, die tweede plek wat Israel verower het (Jos 8:12-17), vandaar na Jerigo die eerste plek wat hulle oorwin en wat met die banvloek getref het (Jos 6:21), na die Jordaan waar hulle die land binnegekom het.   Soos Israel op droë grond deur die Jordaan die land binnegekom het, so is Elia saam met Elisa op droë grond in die teenoorgestelde rigting deur die Jordaan die land uit.

Elia se uittog saam met Elisa deur die Jordaan is terselfdertyd ‘n afbeelding (dws parallel) aan Israel se uittog uit Egipte op droë grond deur die Skelfsee (Ex 14:15-22).  Moses het destyds met sy staf op die water geslaan en dit is na weerskante verdeel; Elia het sy mantel opgerol en op die water geslaan het “… en dit is na weerskante verdeel, sodat hulle twee op droë grond deurgegaan het” (2 Kon 2:8).  Die deurtog was Elia en Elisa se doop voordat hy na die hemel opgevaar het.

Dit was ook ‘n spieëlbeeld van Johannes die Doper se persoonlike doop toe hy heengegaan het om met Christus te wees.   Johannes se kop is in die gevangenis afgekap op aandrang van Herodias wat Johannes gehaat het soos wat Isébel Elia gehaat het (Mk 6:17-28).  Sy kop is in ‘n skottel vir Herodia gebring.  Sy dood in die gevangenis waardeur hy heengegaan het om met Christus te wees (Fil 1:21-24), is die asimmetriese spieëlbeeld van Elia se deurtog deur die Jordaan op droë grond voordat hy in die storm na die hemel gevaar het (2 Kon 2:11).  Elia en Elisa is waarskynlik met watersproei besprinkel; Johannes se kop is in sy eie bloed in die skottel gedoop.

Weereens is daar in albei gevalle van onderdompeling nie sprake nie, van besprinkeling met water en bloed wel.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s