Elisa, die erfgenaam van Elia se Gees.

Elia en Elisa moet as ‘n vader-en-seun gesien word, ‘n onskeibare tweemanskap wat saam een van dié duidelikste afbeeldings van Christus in die Ou Testament verskaf wat daar is.  Dit is eers as hulle verhale soos twee deurskynende plate oor mekaar geplaas word dat ons die volle prentjie van Jesus in die Ou Testament sien.

Elia en Elisa is aan mekaar verbind soos wat geen ander twee profete in die Skrif aan mekaar verbind is nie.  Elisa is die enigste profeet waarvan ons ooit lees dat hy as profeet “gesalf” moes word (1 Kon 19:16).  Priesters en konings is in die amp gesalf, maar nie profete nie; die profete is almal persoonlik deur die Here geroep en met sy Gees toegerus.  Slegs ten opsigte van Elisa word die woord “salf” gebruik.  Dit was buitengewoon omdat die profeetskap nie ‘n amp was soos die van priester en koning nie, maar ‘n gawe van die Heilige Gees.

Elia het ook nie soos met die priesters en konings salfolie op Elisa se kop uitgegooi nie, maar sy mantel op hom gewerp (I Kon 19:19).  Elisa het dadelik verstaan wat Elia daarmee doen, nl sy diens as profeet op hom oordra.

Hierdie “salwing” aan die begin van Elisa se loopbaan, het ‘n asimmetriese spieëlbeeld aan die einde van Elia se loopbaan net voordat Elia in die hemel opgeneem is.  Elisa het toe vir Elia gevra dat ‘n “dubbele deel” van Elia se Gees op hom moet kom (2 Kon 2:9).  Elia het Elisa se versoek ‘n “harde saak” genoem omdat dit so ongewoon was (2 Kon 2:10).  Die “dubbele deel” verwys na die erfporsie van ‘n man se eersgeborene (Deut 21:17).  Wat Elisa eintlik gevra het was dat hy as Elia se eersgebore seun gereken moet word.  Hy wou die profeetskap en die Gees erf soos wat Salomo die koningskap van sy vader Dawid geërf het.   Dit was totaal ongehoord.  Want die profeetskap was nooit ‘n erflike saak soos die ampte van priester en koning nie.  Elisa het daarmee baie meer gevra as wat die Here hom aanvanklik beloof het by sy roeping toe Eilsa sy kleed op hom gegooi het of wat Elia by magte was om vir hom te doen.  Daarom het Elia met ‘n voorwaarde geantwoord:  “As jy my sien wanneer ek van jou af weggeneem word, laat dit dan so met jou wees.  Maar so nie, dan sal dit nie wees nie” (2 Kon 2:10).  Elia se hemelvaart wat in metaforiese taal beskryf word, was eintlik ‘n geheim; daarom het Elia eers hard probeer om van Elisa ontslae te raak voordat hulle deur die Jordaan is (2 Kon 2:1-6).  As die Here Elisa so sou begenadig dat Hy hom laat sien hoe Elia opvaar, beteken dit dat hy inderdaad die dubbele deel van Elia se Gees ontvang.

Dit het so gebeur en die ander profete het ook onmiddelik besef dat Elia se Gees op Elisa rus toe hulle sien hoe hy met Elia se mantel die Jordaan kloof en op droë grond deurgaan (2 Kon 2:15).  Elisa se terugkeer deur die Jordaan is ‘n spieëlbeeld van Elia se uittog deur die Jordaan en ‘n afbeelding van Israel se intog onder Josua.   Elisa is van daar na Jerigo (2:18), na Bet-el (2:23), na Karmel en Samaria (2:25); hy het as’t ware op Elia se spore teruggeloop na die berg waar Elia die volk gedwing het om te erken “Die HERE, Hy is God” (1 Kon 18:39).  Elisa se “intog” is die spieëlbeeld van Elia sy uittog en die afbeelding van Israel se intog.  Dit is ook ‘n afbeelding van Jesus se laaste reis, van Jerigo na Jerusalem om gekruisig te word.

Soos Jakob/Israel/Elia het Elisa heen en weer op droë grond deur die Jordaan/skeurvallei getrek, is met Elia se mantel “gesalf” tot profeet, selfs as sy eersgebore seun aangewys wat die profeetskap erflik van Elia ontvang.  GEEN ander profeet is ooit so gedoop nie, so onherroeplik gebind aan Elia, die skaduwee van Johannes die Doper in die Ou Testament nie.

Maar van onderdompeling is daar geen sprake nie.  Van ‘n mantel wat op hom gegooi word, van ‘n mantel wat van Elia af val en in sy hande soos Moses se staf word waarmee hy die Jordaan kloof en op droë grond deurgaan wel.

Tog word niemand in die Ou Testament so direk met die doop van Johannes in die Nuwe Testament verbind as juis Elisa nie.  Want dit is deur die diens van Elisa dat Naäman, die Siriër van sy melaatsheid gereinig is en tot die geloof gekom het.

Naäman is die enigste persoon in die hele Bybel wat ons beslis weet ondergedompel is.  Maar, let wel, soos die Jode in hulle mikvehs het hy homself gedoop en, baie belangrik, hy het nie Elisa se opdrag presies uitgevoer nie.

Elisa het gesê dat Naäman hom sewe maal in die Jordaan moet “was” (2 Kon 5:10), maar Naäman het sewe maal “ondergeduik” (2 Kon 5:14).  Die woord wat Elisa vir “was” gebruik het, is dieselfde woord wat by herhaling in die wette van Moses gebruik is.  Dit is gebruik vir die priesters wat hulle moes was, die offerandes wat gewas moes word, vroue en mans wat hulle moes was om rein te word.  Streng in ooreenstemming met die wet van Moses het Elisa beveel dat hy homself was.  Ook die “sewe maal” kom uit die wette van Moses waar dit by herhaling aan besprinkeling en net aan besprinkeling gekoppel word (Lev 8:11, 14:7 en 14:51).

Van onderdompeling was daar geen sprake in Elisa se opdrag nie – van besprinkeling wel!

Maar Naäman wat eers kwaad was en dit nie wou doen nie, gaan tot die ander uiterste oor toe sy ondergeskiktes hom oorreed en hy óórdoen dit – hy duik sewe maal met sy kop onder die water in!  Die Hebreeus gebruik die woord “tabal” wat “indompel” of “onderdompel” beteken, die Hebreeuse ekwivalent van die Griekse “baptizoo”.  Die Septuaginta vertaal dit dan ook met “baptizoo”.

Die woord “was” wat Elisa en sy diensknegte gebruik het, vertaal die Septuaginta met “luoo” wat gewoon “was” beteken.

Sowel die Hebreeuse teks as die Griekse Septuaginta, maak dit dus duidelik dat Naäman nie presies gedoen het wat vir hom gesê is nie, maar by wyse van spreke oorboord gegaan het.

Hy het blykbaar gedink die water sal sy onreinheid afwas.  Dat dit is hoe sy kop gewerk het, blyk duidelik uit die feit dat hy hom aanvanklik vererg het vir die opdrag van die profeet en gevra het waarom hy hom nie eerder in die riviere van Damaskus kon was wat volgens hom beter was as al die water in Israel nie.  Hy het dus gedink daar is iets magies in die water.  Dus: ‘Hoe meer water hoe beter’ het hy geredeneer.  Doen dit behoorlik!  En daar is geen beter manier as om dan heeltemal in die water in te duik nie.

Dat dit presies was hoe sy kop gewerk het, blyk ook uit die feit dat hy ‘n vrag grond vra, blykbaar om ‘n altaar in sy eie land te bou om aan die Here te offer.  Tipies heidense denke van daardie tyd dink hy dat die Here aan die grond en water van Israel gebind is (2 Kon 5:17); hy begryp nie dat God orals teenwoordig is nie.

Hy begryp nie dat daar geen magiese krag in die grond van Kanaän en die waters van die Jordaan is nie, dat dit die God van Israel is wat hom rein maak.  Maar die Jordaan was die poort waardeur God die volk die beloofde land ingelei het, waardeur Elia uitgegaan en Elisa weer ingekom het – op droë grond!  Die Jordaan, soos ons by herhaling aangetoon het, is beeld van die geboortekanaal van die wedergeboorte.

Waarom is Naäman dan gered terwyl hy die verkeerde idee gehad het oor wat die water doen en die opdrag verkeerd uitgevoer het?

Hy is nie op grond van sy verdienste gered nie, maar op grond van genade.  Sy doop in die Jordaan was geen verdienstelike werk nie, maar was ‘n teken van die Heilige Gees wat hom reinig en nuut maak.   Nie net sy liggaam het rein geword nie, sy gees is vernuwe.  Hy is weergebore.  En met ‘n totaal ander gesindheid het hy omgedraai en teruggery na die profeet, nie weer buite by sy wa gewag nie, maar in die profeet se nederige huisie ingestap en sy geloof in die God van Israel bely.

Die Here het hom gered al het hy oorboord gegaan met wat hy gedoen het, soos wat die Here water uit die rots by Mériba gegee het al het Moses oorboord gegaan en die rots geslaan in plaas van met die rots praat (Num 20:8-12).  Die Here het water gegee omdat Hy water wou gee, nie omdat Moses en die volk dit verdien het nie.  Netsoos Hy reën op die aarde gegee het na Elia se optrede by Karmel, nie omdat die volk dit verdien het nie, maar omdat Hy dit wou gee.  Maar, anders as met Naäman wat die Here nie oor sy eiesinnig gehoorsaamheid gestraf het nie, het Hy Moses en Aäron streng gestraf oor hulle vergryp; hulle sou nie die volk die beloofde land inlei nie.  Van Naäman wat nie van beter geweet het nie, het die Here dit verdra en hom gereinig juis om hom tot geloof en insig te bring; van Moses en Aäron het die Here dit nie verdra nie.

Naäman het eiesinnig gehoorsaam.  Die Heilige Gees het dit gebruik om nie net sy liggaam te genees nie, maar sy hart te verander.  Dat sy reiniging, fisies en geestelik, van die Heilige Gees gekom het, word deur die getal sewe beklemtoon.  Dit is die spieëlbeeld van die sewe maal wat Elia gebid het op Karmel (1 Kon 18:43-44), die Sewe Geeste voor die troon van God (Op 1:4, 4:5, 5:6 en 10:4).  Om homself sewe maal te was, het heengewys na die doop met die Heilige Gees wat Christus doen.

Van belang vir die doop in Naäman se reiniging is dat Elisa, streng in ooreenstemming met Moses se wette, hom beveel het om hom te “was”.  Sy onderdompeling was ‘n eiesinnige optrede gebore uit sy heidense opvattings wat ons vroeëre stelling bevestig dat die Joodse onderdompelings in die mikvehs wat in die laaste honderd jaar voor Christus ontstaan het, ‘n heidense oorsprong het.   Soos die Joodse mikvehs was dit ‘n selfdoendoop; Elisa het hom nie gedoop nie.  Van ‘n onderdompeling op die manier waarop die Onderdompeldopers doop is daar geen sprake nie.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s