Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament is nie dieselfde doop nie.

Maar as enigiemand ten spyte van al die getuienis tot die teendeel steeds wil beweer dat Johannes mense ondergedompel het en dat Christene daarom ondergedompel moet word, dan loop die standpunt hom finaal vas teen die Skrif wat dit duidelik maak dat Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament nie dieselfde doop is nie.

Onderdompeldopers en Sprinkeldopers neem albei aan dat daar geen verskil is tussen Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament wat Jesus in Mt 28:19 ingestel het nie.

Calvyn probeer hard om diegene wat meen dat daar ‘n verskil tussen Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament is, te weerlê.  In die proses huiwer hy nie om die kerkvaders, Chrisostomos en Augustinus, kaalvuis aan te pak en te weerspreek nie: “Wie sou trouens eerder aan Chrisostomos gehoor gee wanneer hy verklaar dat sondevergiffenis nie in Johannes-se-bekeringsdoop ingesluit was nie, terwyl Lukas daarenteen verklaar dat Johannes die doop van berou tot vergifnis van sondes verkondig het?  Ook moet ons Augustinus se spitsvondighede nie aanvaar wanneer hy sê dat die sondes in Johannes-se-bekeringsdoop uit verwagting vergewe is, maar dat dit in die doop van Christus in werklikheid vergewe word nie” [1]

Maar Chrisostomos en Augustinus was nader aan die waarheid as Calvyn, al kan ek nie die kerkvaders se standpunte netso onderskryf nie.

Calvyn laat gewoon buite rekening dat Johannes nie mense in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees sou gedoop het soos wat Jesus sy dissipels in Mattheüs 28:19 beveel het nie.  God was nog nie as Vader, Seun en Heilige Gees bekend nie; die Here Jesus het Hom aan ons geopenbaar.  “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar” (Jh 1:18).  “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het” (Jh 17:6a).  “En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle” (Jh 17:26).

Netso min kan daar sprake wees dat Johannes mense in die Naam van die Here Jesus gedoop het, want Paulus het dissipels wat net met die doop van Johannes gedoop was weer gedoop in die Naam van Jesus.

Handelinge sê by herhaling dat die apostels die nuwe gelowiges in die Naam van die Here Jesus gedoop het.  Byvoorbeeld in Handelinge 2: “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Hand 2:38).  En Handelinge 8: “En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur.  15 Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang,  16 want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus” (Hand 8:14-16).  En Handelinge 10: “En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog ’n paar dae te bly” (Hand 10:48).

“EN terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ’n Heilige Gees is nie.  En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.   En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.  En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.” (Hand 19:1-6)

Calvyn probeer argumenteer dat Paulus nie die mense weer gedoop het nie, maar bloot die hande opgelê het.   Hy sê dat die handoplegging om die Heilige Gees te ontvang bloot verduidelik wat met “doop in die Naam van die Here Jesus” bedoel word.[2]

Maar Calvyn se argument gaan nie op nie.

Eerstens is dit gedwonge eksegese – ‘n voorafingenome standpunt wat op die teks afgedwing word!  Daar is geen aanduiding in die teks dat die teks anders verstaan moet word as wat daar in soveel woorde staan nie, nl dat Paulus hierdie mense weer gedoop het en daarna die hande opgelê het nie.

Tweedens gaan Calvyn se argument van die veronderstelling uit die handoplegging in die plek van die doop-as-sakrament gebruik kan word.  Dit is nie so nie.  Dat die doop-as-sakrament en handoplegging twee verskillende simboliese handelinge is, word baie gou duidelik as mens al die tekste nagaan waar van handoplegging ter sprake is, al hou die twee handelinge verband (Kyk “Die doop met water en oplegging van hande hou met mekaar verband, maar is nie dieselfde is nie”.)

Die kommentator, Howard Marshall, meen soos skrywer hiervan dat Paulus hierdie dissipels weer gedoop het:  “This is the only case in the New Testament of people receiving a second baptism, and it took place only because the previous baptism was not a Christian baptism in the name of Jesus” [3]

Hierdie was ook nie die enigste insident in Handelinge waar onderskeid getref is tussen Johannes‑se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament nie.   Net voor die doop van hierdie mense vertel Lukas ons hoe Aquila en Priscilla vir Apollos wat net van die doop van Johannes geweet het, se gebrekkige kennis verbeter het: EN ’n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandríë gebore was, ’n welsprekende man, het in Éfese aangekom; en hy was magtig in die Skrifte.  Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het.  En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Áquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê” (Hand 18:24‑26).  As die Johannes se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament dieselfde doop was, kon daar mos niks gewees het wat Aquila en Priscilla vir Apollos kon byleer nie.  Calvyn ignoreer Hand 18:24 26 nie net in sy Institusie nie maar ook in sy kommentaar op Handelinge 18.

Johannes die Doper het self uitdruklik tussen die twee onderskei: “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie.   Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur” (Mt 3:11 Vgl ook Mk 1:8, Lk 3:16, en Jh 1:26-33).

En Jesus herhaal dit self net voordat Hy na die hemel opvaar: “En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het.  Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie” (Hand 1:4-5).

Calvyn beweer dat die Johannes se woorde bloot op die twee persone, Johannes en Jesus, betrekking het.  Volgens Calvyn was “sy bedoeling … nie om een doop van ‘n ander doop te onderskei nie, maar hy het sy persoonlikheid met Christus se Persoon daarin vergelyk dat hy ‘n bedienaar van water was, maar Christus die Gewer van die Heilige Gees…”[4]

Natuurlik kontrasteer Johannes sy persoon met dié van Jesus.  Johannes sê dat hy nie waardig is om Jesus se skoenriem vas te maak nie.  Hy het Jesus teengegaan toe Jesus na sy doop gekom het en gesê: “Ek het nodig om deur U gedoop te word” (Mt 3:14).

Maar dit is baie duidelik uit die teks dat dit nie bloot om twee verskillende persone gaan nie, maar om twee verskillende dope juis omdat dit twee verskillende persone is.   Die eerste persoon doop net met water, die tweede Persoon doop met meer as water, Hy doop met die Heilige Gees en vuur.

Calvyn se fout, soos almal wat bloot aanneem dat Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament dieselfde doop is, was dat hy nie Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament in hulle openbarings-historiese konteks geplaas het nie.

Mense begryp gewoon nie die ommekeer wat Jesus se opstanding uit die dood gebring het nie, van dood na lewe, van die bedeling van die dood, die Ou Testament, na die bedeling van die lewe, die Nuwe Testament, van sewende dag rusdag na eerste dag rusdag, van bekeringsdoop na sakramentsdoop.   Die oorgang van pasga na nagmaal is ooglopend omdat die twee sakramente twee verskillende name het en omdat die twee by alle ooreenkoms duidelik verskil.  Die oorgrang van bekeringsdoop na sakramentsdoop is nie so ooglopend nie omdat die die twee dieselfde naam het, baptizoo/doop, en omdat die Here by die instelling in Mt 28:19 nie ‘n ooglopende bevel gegee het oor die wyse waarop dit bedien moet word nie.  Soos die Here beloof het, het die Heilige Gees die kerk daarin gelei (Jh 16:13).  Om die verskil tussen Johannes-se-bekeringsdoop en die doop-as-sakrament wat Jesus ingestel het, te verstaan, vra dat dieselfde Heilige Gees ons in die waarheid lei en die Skrifte vir ons oopmaak.

[1] Johannes Calvyn: “Institusie van die Christelike Godsdiens Deel 4”. Vertaal deur Prof HW Simpson. CJBF, Potchefstroom 1992. p.1615

[2] J Calvyn: a.w. p.1626

[3] I. Howard Marshall in “Tyndale New Testament Commentaries, Acts”. Inter-Varsity Press. 1980. p.307

[4] J Calvyn: a.w. p.1616

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s