Beeld vóór teks

Ek het in Desember 2013 ‘n geestelike ervaring gehad wat net as “salwing met die Heilige Gees” beskryf kan word.  Dit het ‘n soortgelyke koersverandering gebring as Moses se evaring in die woestyn toe die Here hom geroep het om Israel uit Egipte te lei (Exodus 2 en 3).  Die Here het nie net my lewe daarmee verander nie, maar ook my Skrifuitleg geherdefinieer sodat beelde (“tipes” of “metafore”) primêr geword het en die tradisionele teks- en taalbenadering sekondêr.

In die tradisionele teksbenadering draai alles rondom die teks, hoe dit ontstaan het, wat die korrekte lesing is, oorspronklike skrywer, eerste lesers, tydsomstandighede, grammatikale vorme, woordbetekenisse.  Beelde en metafore is sekondêr en ondergeskik aan die teks en taal.  Sommige teksverklaarders waarsku selfs om versigtig te wees om tipes van Christus te soek – ‘n waarskuwing wat in werklikheid die Skrif weerspreek.

In die beeld-benadering word die beelde (“tipes”) die uitgangspunt en word die betekenis van die Skrif vanuit die beeld verstaan.  Die teks en taal is sekondêr en dien slegs om die beeld (“tipe”) te bevestig.

Jesus het sy dissipels die beeld benadering (metaforiese) geleer teenoor die Joodse Skrifgeleerdes wat ‘n teksbenadering gevolg het.   In Mattheüs 13 verduidelik Jesus sy prediking en beginsel vir die verstaan daarvan:  “En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?  Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.  Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.  Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie” (Mt 13:10-13).

Jesus verklaar dan die gelykenis van die saaier vir sy dissipels en vertel nog verskeie ander gelykenisse aan hulle.  Aan die einde vra Jesus “… vir hulle: Het julle ál hierdie dinge verstaan?  Hulle antwoord Hom: Ja, Here!   Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ’n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ’n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring” (Mt 13:51-52).

Jesus skiet nie teksteologie, dws Skrifgeleerdheid, af nie, maar leer sy dissipels beeldteologie.  Hy leer hulle dat God hom in die sigbare en tasbare dinge openbaar – dws in sy werke! – en ons daardeur leer (Vgl Rom 1:20).  Hy openbaar Homself in die beelde van alles wat ons kan waarneem.

By ander geleenthede het Jesus gesê “Kyk na die voëls van die hemel” (Mt 6:26), “Let op die lelies van die veld” (Mt 6:28) “en leer van die vyeboom hierdie gelykenis” (Mt 24:32).  Wie leer om die natuur te verstaan en wat God daarin openbaar, leer om die Skrif nuut te verstaan, bring nuwe en ou dinge uit die Skrif te voorskyn.  Hy kan die oue bevestig.  Maar hy kan ook die nuwe uithaal en wys wat nie vantevore raakgesien is nie.

Toe die Here my geleer het om die beelde in die natuur raak te sien en te verstaan, (en die onderliggende fisika te begryp) het ek die Skrif met nuwe oë gelees, kon ek nuwe dinge daaruit te voorskyn begin bring.  Die pad waarop die Heilige Gees my gelei het, is baie vér van klaar geloop.  Elke dag bring nuwe verassende insigte, laat my dinge raaksien en begryp wat nog altyd daar was en waarvan die betekenis tog verborge was.  Wat ek hierin aanbied, bied ek aan as die produk van insig wat van die Heilige Gees kom, nie bloot die produk van teologiese/intellektuele arbeid nie.

Om die doop/sakramente te verstaan, moet mens die beelde en teëbeelde in die natuur en Skrif verstaan.

Wat is sakramente?

Die sakramente is afbeeldings! – werklikheisgetroue toneelstukke wat die evangelie sigbaar demonstreer sodat ons dit beter kan verstaan.  Maar dit is ook baie meer as blote toneelstukke (afbeeldings).  Dit is terselfdertyd seëls – waarborge! – soos die handtekeninge en seëls op ‘n kontrak wat dit wetlik afdwingbaar maak (Rom 4:11; II Kor 1:22; Ef 1:13; Ef 4:30).  Sakramente waarborg die genadegawes aan ons wat dit demonstreer.

Alles wat bestaan is afbeeldings

Dis belangrik om te begryp dat doop en nagmaal nie die enigste sigbare en tasbare beelde is wat die werk van God afbeeld nie.   ALLE dinge in die werklikheid en alle dinge in die geskiedenis is metafories – dws beeld God en sy dade af.

Romeine 1 sê: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Rom 1:20).  Let daarop dat Paulus sê sy onsigbare dinge kan in die sigbare gesien word.  Die sigbare dinge beeld die onsigbare af.  Dit was van die begin van die skepping af so.  Alles wat bestaan en alles wat gebeur beeld die onsigbare dinge af.  Dit maak die onsigbare God en sy werke vir ons sigbaar.  Die sg werklikheid is dus ‘n realiteitsvertoning – ‘n toneelopvoering! – waarin alles en almal rolspelers is om die onsigbare dinge van God, nl sy ewige krag en goddelikheid, te demonstreer.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s