Dinge[1] beeld mekaar af

Wat ons in die werklikheid sien, beeld nie net die onsigbare af nie, dit beeld ook mekaar af.  Een mens is ‘n afbeelding van alle ander mense, een hond van alle ander honde, een plant van alle ander plante.  Kinders beeld hulle ouers af.

Een dag beeld alle ander dae af, een jaar alle ander jare.  Trouens, die Bybel sê “dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (I Petrus 3:8, Ps 90:4). Dws een dag beeld ‘n duisend jaar af.  Ons kan veilig sê dat een dag die geskiedenis van ‘n mens se lewe afbeeld.  Die Bybel gebruik één week van sewe dae om die geskiedenis van die heelal, van skepping tot voltooing, mee af te beeld.

Geskiedenis herhaal weer en weer.   Prediker 1 sê: “Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie” (Pred 1:9).

Genesis 1:26-27 sê dat die mens ‘n afbeelding van God is.

Dit is hierdie basiese elementêre fisikafeit wat dit onmoontlik gemaak het dat Adam en Eva in sonde kon val sonder dat dit ‘n effek op alle mense het.  Wat mens met een deel van jou liggaam doen, word dwarsdeur jou liggaam gereflekeer en affekteer die hele liggaam  “As een lid ly, ly al die lede saam” (I Kor 12:26).  Nie net die fisiese voorkoms van die ouers en hulle persoonlikhede word in hulle kinders gereflekteer nie, maar hulle sondige geaardheid word ook afgebeeld.  “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.”  (Ps 51:7).  Daarom sê die Here in die Tien Gebooie dat Hy die sondes van die vaders besoek aan die kinders tot aan die derde en vierde geslag van dié wat Hom haat (Ex 20:5).

Al die verbonde, die verbond met Noag (Gn 9:9), die verbond met Abraham (Gn 17:7) en die Nuwe Verbond (Hand 2:39) berus op hierdie basiese fisikafeit, dat die kinders in alles ‘n afbeelding van die ouers is, ook in hulle sondige natuur en in die genade wat God aan hulle bewys.

Die verlossing in Christus berus op hierdie basies feit.  Dit is waarom die Seun van God sy goddelike gestalte moes aflê om ons gestalte – ons verwronge beeld! – aan te neem (Fil 2:6 en 7).  Hy kon ons alleen red deur ons beeld aan te neem en die beeld deur sy lyding en opstanding te herstel.

Wat Hy gedoen het, word afgebeeld in hulle wat in Hom glo.  “Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe” (Rom 5:18).

Ons word deur middel van afbeelding en spieëlbeelding na die herbore beeld van Jesus self weer gebore en nuut gemaak.   Paulus sê dit in soveel woorde in II Korinthiërs 3: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (II Kor 3:18).

‘n Mens moet eers die geheel ken en verstaan, dan kan jy die dele ondersoek en verstaan

Ons sien eers altyd eers die geheel, dan die dele.

Wanneer ons ‘n boom van ‘n afstand af sien, sien ons die hele boom, net stam en die blarekroon wat soos een ding lyk.  As ons nader stap, begin die onderdele sigbaar word, takke en individuele blare.  Stap ons nog nader en bekyk een blaar, dan sien ons die blaar het ‘n sentrale stam, sytakke en loof – soos die boom.  Die blaar is in werklikheid ‘n klein afbeelding van die boom.

Dit geld van alle dinge.  As ons van ver af ‘n mens sien kan ons die persoon as ‘n mens herken en dis al; jy kan dikwels nie eens sien of dit ‘n man of vrou is nie.  Hoe nader ons aan die persoon kom, hoe meer besonderhede word sigbaar.  Ons sien gewoonlik eerste raak of dit ‘n man of vrou is.  Nog nader kan mens gelaatstrekke begin uitmaak, die persoon se klere onderskei.  As jy naby genoeg is, sien jy plooie en moesies en vlekke en ander gebreke.

Van vér af vertoon hele sterrestelsels soos een ster.  Bring mens dit nader met ‘n teleskoop, kan jy individuele sterre begin onderskei.  Dieselfde geld die mikrokosmos.  Molekules en atome en partikels is miniatuur afbeeldings van sonnestelsels en sterrestelsels.

Dit is belangrik om te begryp dat wat ons in die groot dinge raaksien, in die kleine herhaal word.  Wat ons in die hele liggaam sien, word in die onderdele afgebeeld.  Die geheel van die menslike liggaam word in die onderdele herhaal, selfs tot op sel- en DNA-vlak.  Die kleintjies is afbeeldings van die grotes, die dele afbeelding van die geheel.

Dit is presies dieselfde beginsel wat die grondslag vorm van Petrus se woorde dat duisend jaar vir God soos een dag is en een dag soos duisend jaar.  As mens die geskiedenis deur daardie bril benader, kan mens die beelde en spieëlbeelde ook in die geskiedenis herken.

Dit geld netso om die Bybel te verstaan en te verklaar.  Netso min as wat ons met die onderdele van ‘n boom of ‘n mens of ‘n ster begin om die boom of mens of ster te leer ken en te verstaan, netso min kan mens met individuele tekste begin of net op party tekste fokus om die Bybel te verstaan.  So seker as wat mens ‘n sin in enige boek alleen korrek kan verstaan in die lig van wat die hele boek sê, netso seker kan mens individuele tekste in die Bybel alleen verstaan in die lig van die boodskap van die hele boek.

Hierdie beginsel is krities belangrik om die doop reg te verstaan.   As jy die doop wil verstaan, moet jy by die boodskap van die hele boek reg verstaan en van daar uit individuele tekste verklaar.  Die verskillende standpunte oor die doop is grootliks die gevolg daarvan dat mense slegs ‘n paar tekste gebruik waarop hulle standpunt berus, maar nie die boodskap van die hele Bybel nie.

Niemand kan elke teks in die Bybel uit sy kop ken nie.  Dit is ook nie nodig nie.  Wie die geheel verstaan en vanuit die boodskap van die geheel na die dele beweeg, kom agter dat die individuele verhale, gebeurtenisse, wette, gedigte, tekste, die geheel van die boodskap afbeeld en weerspieël.

Maar as jy net individuele tekste gebruik, losgemaak van die hele boodskap moet jy noodwendig op ‘n dwaalspoor beland.  Wat jy doen is so goed as om individuele blare te ondersoek sonder om na die hele boom te kyk.  Dit is soos om ‘n persoon te beoordeel na aanleiding van hoe sy oë of ore of naels lyk; dit kan jou baie oor die persoon sê, maar jy sal beslis die verkeerde indruk van die persoon hê as jy net daarna kyk.

Dieselfde geld taal en woord.  As mens die Bybel probeer verklaar op grond van ‘n enkele woord soos die Griekse woord “baptizoo” en die woordeboekbetekenis daarvan, of die taalkonstruksie wat gebruik word, gaan jy nie by die korrekte boodskap uitkom nie.  Wanneer jy egter van die geheel na die dele, van die beeld na die taal beweeg, word die spesifieke taal en woorde wat die skrywer gebruik het nie net duidelik nie, maar die taal en woorde bevestig die beeld en die geheelboodskap.

[1] Met “dinge” bedoel ons enigiets in die werklikheid, dws alle voorwerpe en alle gebeure.  Ons vermy waar moontlik hoogdrawende woorde soos “entiteite” en/of “fenomene” hoewel dit beter sou beskryf, omdat ons die geskrif so toeganklik moontlik vir alle mense wil maak.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s