Afbeeldings word uit kombinasies van beelde en spieëlbeelde geskep

Een man is ‘n parallelle afbeelding van ‘n ander man.  As hulle langs mekaar staan, is hulle parallel aan mekaar en alle liggaamsdele is parallel aan mekaar soos twee parallelle lyne.

Maar die beeld wat mens van jouself in ‘n spieël sien is nie net parallel aan jou nie, dit is terselfdertyd omgedraai.  Dit is regop soos jy, maar kyk in die teenoorgestelde rigting.

Die spieëlbeeld se linkerkant en regterkant is ook omgedraai.  Regs is links en links is regs.

Kyk gerus na jou gesig in ‘n spieël.   Mens kan ‘n lyn reguit in die middel af trek om die gesig in twee helftes te verdeel.  Die linkerkant van die gesig is ‘n spieëlbeeld van die regterkant, dws terselfdertyd parallel en omgedraai.[1]

Die hele liggaam kan so in twee helftes verdeel word wat mekaar weerspieël en pare vorm.  Die linkerbors is ‘n spieëlbeeld van die regterbors, die linkerarm van die regterarm, linkerhand van die regterhand, linkerbeen van die regterbeen.    Dit geld ook van die onsigbare organe binne die liggaam.  Daar is twee breinlobbe wat mekaar weerspieël, twee longe, twee niere, ensovoorts.

“Ruimte” is die spieël wat beelde skep

Ons het gesien dat mens ‘n lyn in die middel van jou gesig en liggaam kan aftrek wat dit in linker- en regterhelftes verdeel wat mekaar weerspieël.  Daar is dus ‘n onsigbare spieël tussen die twee helftes van jou gesig en liggaam wat veroorsaak dat die een helfte die ander helfte weerspieël.

Wat is hierdie spieël?

Kyk gerus weer na jou gesig in die spieël, spesifiek die mond.  Die bolip is ‘n spieëlbeeld van die onderlip.  As mens se mond toe is, is daar ‘n duidelike spieëllyn tussen die boonste en onderste lippe.  Maak mens jou mond oop, word hierdie spieëllyn ‘n oop ruimte.  Die ruimte tussen die bolip en onderlip is dus die spieël.[2]

Dit is duidelik dat die “ruimte” nie bloot ‘n spieël is nie, want dan sou alle lig eenvoudig teruggekaats word en ons sou niks anders kon sien nie.  Ruimte is terselfdertyd ook ‘n lens wat lig en energie deurlaat.  Daarom verkies ek om van “die lens-spieël effek van ruimte” te praat.  Mens sou dit ook “die oppervlakte effek” kon noem.

Wie of wat is daarvoor verantwoordelik?  Wat is “ruimte”?  Ons weet nie wat “ruimte” is nie, maar as gelowiges weet ons wel dat God se Gees orals in die ruimte teenwoordig is.  God se Gees verskaf energie en God se Gees bestuur energie deur middel van die lens-spieëleffek om alles te skep en te bestuur.

Die Gees vul die ruimte en oorbrug alle afstand wat ons Here Jesus en sy Vader één God maak.  (Jh 10:30).  Maar dit is ook dieselfde Gees wat in ons almal is wat ons tot een liggaam van Christus saambind.  “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (I Kor 12:13).  Dit is ook dieselfde Gees wat tegelykertyd in man en vrou is, wat hulle waarlik één maak.

Omdat “ruimte” een is en God se Gees wat die ruimte vul één is, is afstand irrelevant.  Dieselfde lens-spieëleffek wat twee partikels oor ligjare in ‘n “huwelik” verbind (Lees Voetnoot 3), verbind man en vrou, verbind Vader en Seun, God en mens – verbind alle dinge! – só dat ons nêrens van God af kan wegkom nie.  “U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.  Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.  Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?  Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!  Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.” (Ps 139:5-9).

Die lens-spieëleffek in ruimte wat afstand irrelevant maak, verseker dat die doop en nagmaal nie blote toneelstukke is wat die verlossing afbeeld nie, maar dat dit seëls is wat ons werklik met die eie liggaam en bloed van Christus verbind.

Die transubstansieleer van Rome wat sê dat die doopwater in die werklike bloed van Christus verander, die brood en wyn van die nagmaal in die werklike liggaam en bloed van die Here, is nie net vals nie, maar is heeltemal onnodig.   Netso die konsubstansiasieleer van Luther wat sê dat die liggaam en bloed van Christus in die brood en wyn en water teenwoordig is, is ook nie waar nie en ewe onnodig, hoewel dit nader aan die waarheid as die Roomse leer is.   Want die lens-spieëleffek van ruimte wat alle afstand oorbrug, wat dinge oor miljoene ligjare verbind, bewys dat ons hier op aarde iemand met water kan doop en dat die persoon waarlik met die bloed van Christus gereinig en versoen word, dat ons iemand die hande kan oplê en die persoon waarlik met die Gees vervul kan word, dat ons die brood kan eet en uit die beker drink wat net gewone brood en wyn is en bly en dat ons nogtans daardeur die ware liggaam van Christus eet en drink.

Die twee entiteite wat mekaar afbeeld en weerspieël vorm saam met die ruimte ‘n drie eenheid.  Dit is inderdaad ‘n afbeelding van die twee-eenheid, Vader-en-Seun, wat deur één Heilige Gees deurdronge ‘n drie-eenheid is.  Dit geld netso van man en vrou – trouens, van enige twee entiteite wat so deur ruimte met mekaar verbind is.

Alle dinge in die heelal vertoon dit.  Dis wat Paulus in Romeine 1:20 bedoel wanneer hy sê dat die sigbare dinge die onsigbare dinge van God vertoon, “naamlik sy ewige krag en goddelikheid”.  Alles vertoon die drie-enige God en sy krag.  Die mens wat na die beeld van God gemaak is, doen dit spesifiek.   Man en vrou is die afbeelding van Vader en Seun.

Die skeppingsverhaal van Genesis 1 is op dieselfde twee-drie eenheid gestruktureer, naamlik twee groepe van drie dae elk wat mekaar asimmetries weerspieël.

[1] Spieëlbeelding is verantwoordelik daarvoor dat die linkerkant van ons liggaam aan die regterbrein gekoppel is en die regterkant aan die linkerbrein.  Dit is spieëlbeelding wat veroorsaak dat ons linkeroog verbind is aan die regterbrein en die regteroog aan die linkerbrein.  Dit is spieëlbeelding wat veroorsaak dat die oë wat voor in die kop sit aan die agterkant van die brein, die teenoorgestelde kant van die kop, gekoppel is.  Die beeld wat in ons oog geprojekteer word, is onderstebo agv van die lens-spieëleffek, maar die brein draai dit weer regop dmv spieëlbeelding.  Dit is spieëlbeelding wat veroorsaak dat die lugpyp en die slukpyp in die nek mekaar kruis.

[2] Daar kan baie getuienis aangebied word om hierdie eenvoudige waarneming te bevestig, maar dit val buite die veld van hierdie studie.  Wat wel belangrik is, is om te begryp dat dieselfde spieëleffek van “ruimte” verantwoordelik daarvoor is dat daar vir elke aksie ‘n reaksie is (Newton se sogenaamde 3e wet).  Dieselfde effek is daarvoor verantwoordelik dat dinge kleiner lyk hoe verder dit van ons af is.  Dié effek is ook verantwoordelik vir kwantum verskynsels soos verstrengeling.

Vir wie onbekend is met kwantum verstrengeling: Twee partikels kan oor miljoene ligjare met mekaar verbind wees só dat as een partikel geaffekteer word, die ander partikel onmiddelik daarop reageer.  Die twee partikels is in ‘n “huwelik” met mekaar waar hulle spoed en rotasie mekaar weerspieël.  Einstein het dit “spooky action at a distance” genoem.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s