Jesus se opstanding is die groot spieëlpunt in die geskiedenis.

Ons het gesien dat alles voortdurend verander.  Die skepping gebeur.   Omdat alles in die skepping uit entiteite bestaan wat mekaar weerspieël, behoort die geskiedenis dus ook spieëlbeelde te hê en behoort daar oorgangsmomente te wees wat spieëlpunte is.

Dit is inderdaad so.  Dag is die spieëlbeeld van nag, winter van somer, lente van herfs, namiddag van voormiddag.   Twaalf uur in die middag wanneer die son op sy hoogste is, is die spieëlpunt tussen voormiddag en namiddag, twaalf uur in die nag die spieëlpunt tussen vóórnag en nánag.   Ses uur in die oggend en ses uur in die aand is spieëlpunte op die oorgang tussen dag en nag.

Daar is vier seisoensoorgange per jaar.   Die oorgange tussen winter en somer is op 21 Maart en 21 September en die middelpunte van winter en somer is 21 Junie en 21 Desember.  Dit spreek vanself dat die oorgange nie ‘n volle dag duur nie, maar een enkele oomblik sonder tydsduur wat ‘n spieëlpunt is.

Trouens, die verlede is die spieëlbeeld van die toekoms en die hede – nou! – die spieëlpunt tussen die twee.  Nou het geen tydsduur nie.

In elke mense se lewe is daar ook sulke oorgange wat spieëlpunte is, byvoorbeeld die geboorteoomblik wanneer ‘n baba sy eerste asemteug gee en skree, en aan die ander einde van die lewe wanneer die laaste asem uitgeblaas word en die liggaam leweloos bly lê.

Wedergeboorte en bekeringsmomente is spieëlpunte in mense se lewens.  Jakob se worsteling met God by die Jabbokspruit waar hy as gesonde man aangekom en as ‘n hinkende Israel weggestap het (Gn 32:9-31), ‘n wedergeboorte en bekeringsmoment, was die groot spieëlpunt in sy lewe.

So is daar oorgange – spieëlpunte – in die geskiedenis waar dit wat na die oorgang gebeur ‘n spieëlbeeld is van dit wat voor die oorgang is.  Voorbeelde is legio, maar dit is nie die fokus van hierdie studie nie.

Ons fokus hier is die opstanding van ons Here Jesus as die groot spieëlpunt in die geskiedenis, die groot omkering.   Die opstanding is die spieëlbeeld van die sterwe, die hemelvaart is die spieëlbeeld van die menswording.  Ons praat tereg van “voor Christus” en “na Christus” omdat ons Here Jesus se menswording, lewe, sterwe, opstanding, hemelvaart en koms van die Heilige Gees die gang van die geskiedenis drasties verander het.

“Voor Christus” verwys gewoonlik na die tydperk “voor sy geboorte” en “na Christus” na die tydperk na sy geboorte”.  Die groot verandering het egter nie met sy geboorte gebeur nie – dit is ook ‘n spieëlpunt, maar nie dié spieëlpunt nie; opstanding is die groot omkering!   Dit sou meer korrek gewees het as “voor Christus” verwys het na die tydperk voor sy opstanding en “na Christus” verwys het na die tydperk na sy opstanding.  Want sy opstanding het ALLES verander.  Dit is die groot omkering in die geskiedenis – die groot spieëlpunt tussen Ou Testament en Nuwe Testament.

Kruis en graf is nog deel van die Ou Testament.  Jesus vervul die seremoniële wet tot in die dood.  Die Ou Testament, die seremoniële wet met die sabbat ingesluit, is met Hom gekruisig en met Hom in die graf neergelê.  Dit het van Hom afgeval saam met die klere wat die soldate gevat het.  Dit het in die graf bly lê saam met die doeke waarin sy liggaam toegedraai was.  Op daardie oomblik toe die Here se Gees in sy liggaam terugkeer, die rigting van die energie omdraai en sy gebroke liggaam verheerlik wakker word, het ALLES verander.  Op daardie oomblik is alles omgedraai! – oud het nuut geword, die dood is verslind deur die lewe, die sondeval verander in verheerlikte nuwe geboorte.

Gebeurtenisse in die Nuwe Testament is dikwels – dalk meestal – spieëlbeelde van gebeurtenisse in die Ou Testament, byvoorbeeld:

  • Voor sy kruisiging het Jesus die “… twaalf uitgestuur … na die verlore skape van die huis van Israel.” (Mt 10:5‑7). Na sy opstanding het Jesus vir hulle gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies…” (Mt 28:19).  Die adres waarheen Jesus sy apostels stuur verander van Israel na die nasies, van Jood na Griek, van Sem na Jafet, van Oos na Wes.
  • Die Ou Testament is in Semitiese tale, Hebreeus en Aramees, geskryf. Die Nuwe Testament is in Grieks geskryf.
  • Die Semitiese tale word van regs na links geskryf, Grieks van links na regs – die spieëlbeeld.
  • Voor die kruisiging is die laaste dag van die week as rusdag gevier, na die opstanding die eerste dag van die week, die opstandingsdag. Laaste dag en eerste dag is spieëlbeelde van mekaar.
  • Israel is in Moses, die wolk en see gedoop met die uittog en het daarna kwartels en manna geëet (Ex 14 en 16; I Kor 10:1-3). Die spieëlbeeld daarvan is die eerste vermeerdering van die brode en Jesus wat daarna op die see geloop het (Mt 14:14-36; Mk 6:30-56; Lk 9:10-17; Jh 6:1-21).
  • In die Ou Testament het die wind in die guns van die Israeliete gewaai (Ex 14:21), in die Nuwe Testament was die wind teen die dissipels in die skuit (Mt 14:24).
  • In die Ou Testament het die volk deur die see getrek en die Here in die wolk oor die see gevlieg, in die Nuwe Testament stap Hy, nie deur die water soos die volk, maar óór die water.

Wat voor Christus se kruisiging gebeur het was vóór-beelde.

Kolossense 2 sê:  “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie,  wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol 2:16-17).  Dié Ou Testamentiese sabbat en feeste was skaduwees – dws afbeeldings! – van gebeure wat nog in die toekoms was.  “Die liggaam behoort aan Christus” beteken dat Christus die Persoon is wat die skaduwee gooi.  Met ander woorde al dié dinge is afbeeldings (“skaduwees”) van Christus.  Hy is die werklikheid – die vervulling!

  • Die uittog uit Egipte is ‘n afbeelding van die verlossing uit die sonde.
  • Die pasga wat die Israeliete herinner het aan die nag van die uittog het vooruitgewys na die nagmaal.
  • Die paaslam waarvan die bloed aan die deurposte gesmeer is, het heengewys na Christus wat aan die kruis geoffer sou word.
  • Die slang wat Moses in die woestyn verhoog het, het heengewys na Christus se verhoging aan die kruis.
  • Die fisiese rots waaruit die water in die woestyn gevloei het sodat die Israeliete kon drink, was ‘n beeld van Christus (I Kor 10:1-4).

“En hierdie dinge was voorbeelde (‘tipes’) vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie” (I Kor 10:6).  “Maar al hierdie dinge het hulle (die Israeliete) oorgekom as voorbeelde (‘tipes’) en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (I Kor 10:11).  “Die eindes van die eeue” verwys soos “liggaam van Christus” in Kol 2:17 na die vervulling in Christus.

Wat ná Christus gebeur het is ná-beelde en vóór-beelde

Soos wat die geskiedenis van die Ou Testament heengewys het na Christus, wys die geskiedenis na Christus terug na Christus en heen na die wederkoms.

Die apostels en ander gelowiges in die Nuwe Testament wat vervolg is, is “navolgers” – ná-beelde– van Christus.  Hulle is vervolg soos wat Hy vervolg is, gemartel, gekruisig, onthoof, verbrand.

Volgens die beginsel van afbeelding-spieëlbeelding herhaal dié gebeure weer pas voor die wederkoms, veral in die geskiedenis van die twee laaste getuies (profete) wat ná-beelde van Moses en Elia is en as ná-beelde van Christus sterwe, opstaan en na die hemel vaar (Op 11:3-13) om aan die hele wêreld die bewys van Jesus se opstanding en hemelvaart te gee – die teken van Jona wat die Here beloof het aan dié wat ‘n teken gevra het.

Die “sakramente”, doop en nagmaal, is ná-beelde waaraan alle gelowiges deel het in opdrag van Christus.   Die nagmaal wys terug na sy liggaam wat verbreek en sy bloed wat vergiet is tot ‘n volkome versoening van al ons sondes.  Dit wys natuurlik ook vooruit na die bruilofsmaal van die Lam.

Netso wys die doop terug na die offerande van Christus, die wedergeboorte wat ons almal deur sy opstanding ontvang (Titus 3:5).  Dit wys natuurlik ook vooruit na die wedergeboorte van alle dinge, die nuwe hemel en nuwe aarde (Mt 19:28, Rom 8:18-22, Op 21).

Ander simboliese handelinge in die kerk

Die “sakramente” is nie die enigste simboliese handelinge wat Christus ingestel het nie.   Daar is ook die voetwassing en handoplegging wat albei met die doop verband hou.  Daar is ook die hoofbedekkings vir vroue waarvan Paulus in I Korinthiërs 11 praat wat met die besnydenis en die doop verband hou.   Daar is die priesterlike seën wat God alreeds in die Ou Testament ingestel het (Numeri 6:24-26) en wat ons in die NT aan die begin en einde van elke brief teëkom wat ook met die besnydenis en doop verband hou.

Maar die doop en die nagmaal soos wat Christus dit ingestel het, is fokuspunte soos die fokuspunte van ‘n mens se gesigsveld.  Dit is heilige sigbare en tasbare tekens en seëls.  Die ander simboliese handelinge is rondom die doop en nagmaal geplaas en voltooi die beeld van doop en nagmaal soos wat mens se hele gesigsveld die beeld om die fokuspunt voltooi.   Sonder al die simboliese handelinge word die sakramente soos die gesigsveld van iemand wat tonnelvisie het.

Zacharias Venter
Oos-Londen
13 Mei 2019

Skakels na ander artikels oor die doop: https://wp.me/p8E6eZ-1Y

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s